Kolskoot vir 17-jarige Proteaskut
Nommerpas staan hy trots in Suid-Afrika se bekendste groen baadjie geklee. Doelgerig is sy grootste teiken bereik en ses jaar lange droom om ’n Protea Bisleyskut te word, verwesenlik. Jurgens Jansen van Rensburg is maar net 17 jaar oud, maar hy bewys dat ouderdom werklik net ’n nommer is as die passie en liefde vir …
Nommerpas staan hy trots in Suid-Afrika se bekendste groen baadjie geklee. Doelgerig is sy grootste teiken bereik en ses jaar lange droom om ’n Protea Bisleyskut te word, verwesenlik. Jurgens Jansen van Rensburg is maar net 17 jaar oud, maar hy bewys dat ouderdom werklik net ’n nommer is as die passie en liefde vir die sport kolskoot is.
“Ek kan nog steeds nie glo ek kan uiteindelik self die groen baadjie dra nie. Dit was my groot doel en ek het geweet eendag sal ek ook so een kan aantrek. Dit is ongelooflik,” sê Jurgens met ’n reuse glimlag.
Die woord trots som die atmosfeer by die Jansen van Rensburg’s se huis op met ma, Magda, pa Renier en tot Ouma Tienie wat almal aandeel in Jurgens se sukses gehad het tot dusver.
Sy pa ondersteun hom by elke skietoefening en kompetisie op eie onkoste. Dit is hierdie toewyding wat Jurgens veral waardeer.
“Die lekkerste aspek is dat ons hom altyd ondersteun met sy pa wat saam met hom oefen soms en ook na al sy kompetisies en toernooie gaan kyk,” vertel sy ma.
“Ek is net nie so goed nie. Jurgens is myle beter as ek!,” skerts sy pa.
Natuurlik sal lesers net dié leerder van Potchefstroom Gimnasium se roete na sukses beter kan verstaan as die ervaringe uit die perd se bek self kom.
“Ek het op 11 met luggewere by die skool begin skyfskiet doen. Schalk Greyling, was die hoof van skoleskiet luggeweer en het my altans ingetrek om saam met die hoërskoolkinders te skiet. My afrigter, Bets van der Vyfer (ook ’n Proteaskut), het my ongelooflik baie gehelp tot waar ek nou is. Sy het my potensiaal raakgesien,” sê Jurgens, wat ook Noordweskleure in beide luggeweer en Bisleyskyfskiet het.
In 2014 begin Jurgens Bisley Skyskiet beoefen met swaar kalibergewere (.308) waar hy deur Bets en haar man Cedric bygestaan word en groot insette ten opsigte van die tegniese aspekte van dié tipe sport geleer word.
In 2015 blink Jurgens behoorlik uit en by sy eerste Nasionale Ope Bisley Kampioenskappe skiet hy drie goue, een silwer en twee bronsmedaljes los. Boonop word Jurgens vir die Protea o.19 span teen Groot-Brittanje in twee toetse gekies, waarna hy Protea klere verwerf en as beste o.19 SA skut aangewys word. Hy behaal ook die tweede plek algeheel in die o.19 groep tydens die toetsreeks. Hierdie jaar verkry hy een goue en twee silwer medaljes by die SA’s en bespreek sy kaartjie na Engeland. Hierdie jaar gaan Jurgens weer vir die nasionale SA o.19 span skiet, vanaf 2 – 24 Julie teen lande soos Engeland, Skotland, Wallis en Kanada.
In Bisley word daar teikens van 300,600, 800 en 900 meter vêr geskiet. Elke skut kry 12 skote op elke afstand, waar daar punte toegeken word afhangende van hoe naby die skut aan die kolskoot is. Een van die uitdagendste aspekte van Bisley skiet is dat deelnemers op hulle maag lê en in onvoorspelbare buitelug omstandighede skiet.
“Geen oomblik is dieselfde nie. Die wind speel ’n ongelooflike belangrike rol. In die begin het ek werklik gesukkel om die wind te lees, maar met die jare het ek dit goed verbeter,” vertel Jurgens.
Volgens Jurgens is dit doodeenvoudig belangrik om geduld te hê, veral as daar gewag moet word dat die skut weer opkom na ’n skoot.
“Sodra ’n mens se hart vinniger klop dan begin jy te bewe en dit affekteer die akkuraatheid van jou skoot. Rustigheid en presiesheid is belangrik.”
Een van Jurgens se moeilikste toernooie was verlede jaar by die Wes-Kaap Interprovinsiale toernooi waar die wind amok gemaak het. “Na ’n paar swak skote het ek geweet dis nie hoe ek eintlik skiet nie en ek moes die wind baasraak. Ek het vasgebyt en silwer gewen,” verduidelik Jurgens sy sterk wilskrag.
Van Jurgens se lekkerste ervaringe is om met skuts van Engeland tydens kompetisies te gesels en meer oor hulle benadering tot die sport uit te vind en sodoende daaruit te leer.
“Skiet gaan ook baie oor die sosiale aspek daarvan. Dit is baie interessant om ander se opinies en metodes te hoor, jy maak vriende en ek verbeter sommer my Engels ook,” lag hy.
Met die jare het hierdie tiener ook ongeveer 40 medaljes en ’n boks vol trofeë ingesamel wat oor die volgende paar jare sekerlik in ’n groter trofeekas uitgestal sal moet word.
Die kranige skut oefen gereeld op die Dirkie Uys Skietbaan (Weermag se skietbane) op die Ventersdorp pad en is baie gewild onder sy mede klublede by die Noordwesweermagklub.
“Ek het hulle in die begin baie verbaas met my skietwerk, nou is ek al so deel van die klub. Dit is rêrig ’n lekker atmosfeer. Die lekker ding is dat ’n mens die sport van jonk tot baie oud kan beoefen. Dit is ’n lewenslange sport,” noem Jurgens.
*Op die huidige stadium benodig Jurgens nog borge om sy oorsese droom waar te maak. Sy pa Renier kan op 083 462 1957 in verband hiermee gekontak word.



