Die Olimpiese Atlete van die helderblou lug
Daar is ‘n gekoer in die lug Saterdagmiddae in Potchefstroom wanneer die geveerde top atlete die groot wenstreep behaal. Na honderde kilometer kondig hulle hul oorwinning met ‘n grasieuse landing in die hok aan. Vere uit, pootjies reguit en koppie in die lug word daar gepronk soos Usain Bolt dit sou doen! Dames en here, …
Daar is ‘n gekoer in die lug Saterdagmiddae in Potchefstroom wanneer die geveerde top atlete die groot wenstreep behaal. Na honderde kilometer kondig hulle hul oorwinning met ‘n grasieuse landing in die hok aan. Vere uit, pootjies reguit en koppie in die lug word daar gepronk soos Usain Bolt dit sou doen!
Dames en here, hierdie is voëls van ander vere en hulle staan bekend as resiesduiwe – die Olimpiese Atlete van die helderblou lug. Hier in ons stad is daar groot kompetisie en opwinding gedurende die jaarlikse duifwedvlugseisoen.
Johan Schlebusch, is nie onder ‘n kalkoen uitgebroei as dit by hierdie sport kom nie, want in duifwedvlugkringe word hy as een van die bestes gereken. Dié huidige klubkampioen by Mooirivier Resiesduif Klub (M.R.K) en Uniekampioen van die Westelike Posduifunie (WPU) het vir Potchefstroom Herald meer oor hierdie interessante en soms misverstaande sport vertel.
‘n Liefde vir geveerde vriende
“Ek vlieg al duiwe vandat ek 13 jaar oud is. ‘n Familielid, Ben Scheepers het my gehelp om duiwe by James Moore te kry. Hy was my mentor en het my alles geleer,” vertel Schlebusch, wat al 37 jaar by die sport betrokke is.
“My hoogtepunt was beslis toe ek in 2014 uniekampioen geword het en dit weer in 2015 behaal het,” vertel dié wedvlugkenner, wat hierdie jaar ook fantasties begin het.
Volgens Schlebusch is daar sterk kompetisie met die ander duiweklub in Potchefstroom, Potchefstroom Posduifklub (P.P.K.) waar daar om die WPU se klubskild meegeding word.
Duiwewedvlugte van punt A na B
Op ‘n koue Donderdagaand by M.R.K is daar ‘n gevoel van wetenskaplikheid met drade en drukkers en klokke wat die geveerde atlete registreer. Daar is wel ‘n groot warmte en opwinding in die harte van die duiweboere voor Saterdag se wedvlug. Hierdie proses word “mandjie”genoem.
Op mandjieaand word daar noukeurig boekgehou om seker te maak dat alles in orde is. Die duiwe word op Donderdae geregistreer en in mandjies gesit.
“Vroeër jare het ons met handklokke en sakrekenaars gewerk waar verskeie aspekte uitgewerk word, soos die spoed en afstand. Om een duif se spoed uit te werk het omtrent vyf minute geneem en die uitslae kon eers na drie dae verkry word. Nou is alles baie makliker met die gebruik van rekenaars,” vertel Schlebusch.
Die duif se nommer is op ‘n rekenaar geregistreer waar die spoed en koördinate dan outomaties uitgewerk word met die GPS. Dit kan nou sommer op dieselfde aand al verkry word. ‘n Benzing elektroniese klok kan vir ongeveer R13 000 gekoop word.
Die duiwe by al die klubs in die WPU word met ‘n groot trok opgelaai. Die trokbestuurder ry dan die duiwe na ‘n spesifieke plek, waarna die duiwe dan Saterdagoggend vrygelaat word om terug te vlieg na hulle eienaars.
“’n Groot miskonsepsie is dat die duiwe van Potchefstroom tot in Bloemfontein en dan weer self terugvlieg – hulle vlieg net een keer,” verduidelik Schlebusch.
“As die duiwe gelos word is hulle op hulle eie totdat hulle terug huis toe vlieg. Ek probeer dan om die duiwe so gou as moontlik in hulle hokke te kry. Sodra die duif oor die antenna loop word die tyd met al die duif se besonderhede geregistreer.
“Die duiwe se spoed hang baie van die wind af, of dit voor of agter die duiwe is. Die duiwe se uitslae word dan verwerk, waarna dit op ‘n grootskerm in die klub verskyn. Die wentye is gewoonlik bitter naby met sekondes wat die verskil tussen ‘n oorwinning en ‘n tweede plek is.
Dit is ook hier waar die vriendelike kompetisie en kameraadskap na vore tree. Gelukkig is daar altyd ‘n volgende week om tye te verbeter en vir ‘n week breëbors rond te loop.
Die wetenskap agter ’n wenduif
Die oorsprong van duiwewedvlugte is van België en daar lyk duiwehokke soos luukse wooneenhede. In Suid-Afrika is dit wel nie so populêr nie. Volgens Schlebusch is daar verskillende rasse waarmee gevlieg word. “‘n Duif wat goed gevlieg het kan mee gebroei word en dan kan daardie duiwe na 26 dae geleer word om te vlieg.
Die kanse is goed dat daardie duiweras ook goeie gene het. Dié jong duiwe vlieg eers om die hok rond totdat hulle gereed is van so drie tot ses maande af,” noem hy.
Om duiwe wedrenfiks te kry moet hulle geoefen word. “Jy kan nie ‘n duif leer om huis toe te kom nie, hy moet daardie wil hê. Ons oefen ons duiwe so 10 weke voor die eerste wedvlug. Hulle begin eers om die hok en dan word die kilo’s van so 10 kilo’s tot so 150 kilo’s opgeskuif sodra die duiwe fikser word,” vertel hy.
“My duiwe is almal ses maande en ouer voordat ek hulle vlieg. Ek het so 120 vliegduiwe en so 25 paar broeiduiwe,” sê hy.
“Ons gee baie om vir ons duiwe. Ons spandeer baie geld op voer, voeding en medikasie om seker te maak dat die duif gesond is. Dit is ‘n baie duur sport,” vertel Riaan Grobler, ‘n ander lid van M.R.K.
Voorkoming is beter as genesing met duiwe ook en verskeie vitamienes kan vir die duif gevoer word om die immuniteit vir die wedvlugte hoog te hou.
Schlebusch noem ook dat die duiwe ingeënt moet word vir die Paramixo Virus en vir Pokke voor hulle kan deelneem. Die sport is ook by Saskok geaffilieer en word vir verbode middels getoets, nes menslike atlete.
Laat die bestes koning koer
In Potchefstroom is daar twee klubs naamlik M.R.K en PPK (Potchefstroom Posduifklub.) Daar is tans 60 lede in die WPU, waarvan 12 aan M.R.K behoort. Daar is twee afdelings in die Westelike Posduif Unie, naamlik die jaaroud en opeafdelings. Jong duiwe is met 2015 of 2016 ringe geregistreer, terwyl enige duif in die ope-afdeling mag deelneem.
“Dit is baie lekker as die jong duiwe goed doen, dan weet jy jou teëlprogram is reg. Ek vlieg ‘n duif vyf of ses jaar maksimum. Dit is beter om die duif te laat broei, as hy te oud word, want hy beteken meer in die hok,” noem die ervare duiweboer.
Elke wedvlug is anders en die duiwe word van verskillende afstande en kondisies getoets. Die duiwe sukkel altyd meer in die reën of in bewolkte toestande. “Die kan ook verskriklik warm vir die duiwe in die Karoo raak,” meen hy.
Volgens Schlebusch is drade en roofvoëls wel een van die grootste probleme dat die duiwe verlore raak.
“’n Ander probleem is “roofmense” wat die duiwe skiet en dit as ‘n groot prys sien as die duif ‘n ring aan het. Dit maak ons kwaad.”
Een van die kommerpunte is dat daar nie baie belangstelling in dié sport by die jonger generasie is nie. “As mense besef waaroor die sport gaan, sal meer mense belangstel. Dit is uiters bevredigend. Volgens Schlebusch is enige iemand welkom om by die klub aan te sluit. Belangstellendes kan vir Schlebusch by 082 800 5722 of Johann van Wyk by 082 821 2392 kontak.