Terseus se nuutste juwele
Dit is agtermiddag op die Fanie du Toit-sportterrein. Jo-Ané van Dyk en Johann Grobler staan met hul spiese wat oor hul skouers hang terwyl hulle aandagtig na hul afrigter, Terseus Liebenberg, luister. Liebenberg sit sy linkerhand op sy regterskouer en beduie terwyl hy sy arm soos ‘n slingerlat agtertoe trek. Hul oë verlaat hom nie …
Dit is agtermiddag op die Fanie du Toit-sportterrein. Jo-Ané van Dyk en Johann Grobler staan met hul spiese wat oor hul skouers hang terwyl hulle aandagtig na hul afrigter, Terseus Liebenberg, luister. Liebenberg sit sy linkerhand op sy regterskouer en beduie terwyl hy sy arm soos ‘n slingerlat agtertoe trek. Hul oë verlaat hom nie vir ‘n oomblik nie. Dan draf hulle weg soos Liebenberg nader stap.
“Daardie twee het ongelooflik baie talent,” sê hy terwyl hy hulle agterna kyk. “Hulle gaan dit nog ver bring.” Hy wat sekerlik die land se voorste spiesgooiafrigter is, sal weet. Op dieselfde gras waar Sunette Viljoen haarself tot Afrika- en Statebondkampioen geslyp het, waar Marius Corbett dieselfde vermag het, hardloop hulle nou spies in die hand terug.
Die 19-jarige Van Dyk, ’n inwoner van Wag-’n-Bietjie-vrouekoshuis en boorling van Heidelberg, is die ene glimlag. So amper ‘n maand terug het sy met ‘n persoonlike beste gooi van 56.22 m in Durban tydens die Afrikakampioenskappe die tonge los gehad. Sunette Viljoen het met ‘n afstand van 64.08 m gewen.
“My doelwit is om Sunette se SA junior-rekord te verbeter,” sê sy. Viljoen se rekord van 58.33 staan sedert 2002, maar is duidelik in gevaar.
Haar oefengenoot – 19 jaar oud en van Centurion – is self ‘n blink juweel. Hy is saam met Van Dyk in die Suid-Afrikaanse span ingesluit vir die IAAF Wêreld Juniorkampioenskappe wat van 19 tot 26 Julie in Poland plaasvind.
“Ek mik definitief vir ‘n medalje,” sê dié trotse inwoner van Veritas-manskoshuis. “Maak nie saak wat wel gebeur nie, dit is ‘n baie groot voorreg om daar deel te neem.”
Kom wat wil, onthou gerus hul name. Daar gaan nog gereeld oor hulle gelees word.



