Olimpiese driekuns vir “Meneer Atletiek”
Eers was dit die skouspelagtige presiesheid van Beijing in 2008, toe die uitmuntende uitvoering van Londen in 2012 en nou is dit die kleurryke karnaval van Rio in 2016. Die Olimpiese Spele is net nog ‘n kosbare deel van die bekende atletiekafrigter en atletiekbestuurder by Puk-Sport, Terseus Liebenberg, se atletiekstorie. In sy nuutste hoofstuk gaan …
Eers was dit die skouspelagtige presiesheid van Beijing in 2008, toe die uitmuntende uitvoering van Londen in 2012 en nou is dit die kleurryke karnaval van Rio in 2016.
Die Olimpiese Spele is net nog ‘n kosbare deel van die bekende atletiekafrigter en atletiekbestuurder by Puk-Sport, Terseus Liebenberg, se atletiekstorie. In sy nuutste hoofstuk gaan hy vanjaar in sy derde Olimpiese Spele in ‘n ry as afrigter die Suid-Afrikaanse span in Augustus verteenwoordig.
“Dit is ‘n ongelooflike ervaring en ek is baie dankbaar. Dit is iets werklik besonders om die Olimpiese vlam te sien brand. Daar is niks groter as die Olimpiese Spele nie,” vertel hy met ‘n trotse glimlag.
Vir Liebenberg gaan dit ook goed wees om kennis op te bou, netwerke met ander afrigters en atlete te vestig en bestaande kennis te deel.
Liebenberg gaan beslis al sy afrigtingskennis gebruik om seker te maak dat hy die beste uit al sy gooiers kry, veral Sunette Viljoen, wat hy met die jare in ‘n wêreldklasatleet omskep het.
“Dit is jare se voorbereiding wat nou in Rio gaan realiseer. Sunette het hier en daar ‘n paar probleme vanjaar ondervind, maar sy sal reg wees om haar beste te gee. Oefening en duplisering van scenario’s in die uitdunne en in die finaal gaan ontsettend belangrik wees. Die uitdunne gaan die moeilikste wees om daardie top 12 te haal. In die finaal kan enigiets gebeur,” verduidelik hy die onvoorspelbaarheid van so ‘n groot sportverhoog.
“Emosies gaan beheer moet word. Kalmte, konsentrasie en fokus sal tot medaljes vir ons atlete lei,” voeg Liebenberg by wat al 35 jaar se afrigting agter die blad het. “Wen is nie alles nie, maar die poging om te wen is alles. As die atlete hulle alles gee om daardie medalje te wen, sal hulle harde werk tot groot prestasies lei.”



