Gimmies lewer briljante spel teen KHS
‘n Kolfvertoning uit die boonste rakke van Potchefstroom Gimnasium se Marco Jansen, het op Saterdag 10 September gesorg dat sy skool se eerstespan ‘n belangrike driepaaltjie-oorwinning teen Hoërskool Klerksdorp op Gimmies se tuisveld behaal het. Jansen het van begin tot einde gekolf en ‘n majestieuse 141 nie uit nie aangeteken om sy span oor die …

‘n Kolfvertoning uit die boonste rakke van Potchefstroom Gimnasium se Marco Jansen, het op Saterdag 10 September gesorg dat sy skool se eerstespan ‘n belangrike driepaaltjie-oorwinning teen Hoërskool Klerksdorp op Gimmies se tuisveld behaal het.
Jansen het van begin tot einde gekolf en ‘n majestieuse 141 nie uit nie aangeteken om sy span oor die teiken van 260 lopies te neem.
Die grootste ondersteuning het van Pierre Botma (25) en Anton Prinsloo (36) gekom terwyl die res van die kolwers teen KHS se boulaanval gesukkel het. KHS se ervare Ruan Minnaar het 3/35 in sy 9 beurte geneem. Gimmies se boulaanval was ook vroeër op sy stukke gewees met Vernon Charslund (2/47), Botma (3/41) en Jacques Botha (3/42) wat die paaltjies laat tuimel het. KHS het wel ‘n paar goeie laeorde vennootskappe bymekaar gesit om ‘n mededingende totaal te kan verdedig.
Gimmies se eerstespan geniet hierdie week ‘n loslootjie en sien nou uit na ‘n komende semi-finaal kragmeting op 24 September.
*Gimmies se o.15 span het ook briljant teen KHS presteer met ‘n 164 lopie oorwinning.
Hier was Marinus Pienaar met (5/39) en Benic van Onselen (3/12) die uitblinkers en het vir KHS vir ‘n skamele 79 uitgeboender. Gerhard Turkstra het ‘n goeie dag met die kolf vir Gimmies gehad met ‘n goed gebalanseerde 75 lopies.

















