Potchefstroom Swemklub vier 30 glorieryke jare in die water
In 1986 is die Potch Dolfyne Swemklub (nou Potchefstroom Swemklub) met vyf swemmers deur Carine Cronje gestig. Agt jaar later in 1992 het hierdie swemklub die eerste keer die Wes-Transvaal (nou Noordwes) kampioenskappe gewen. Hierdie wen was die begin van baie hoogtepunte. Enkele van hierdie hoogtepunte wat uitgelig kan word is die volgende: •Hannes-Walt de …
In 1986 is die Potch Dolfyne Swemklub (nou Potchefstroom Swemklub) met vyf swemmers deur Carine Cronje gestig. Agt jaar later in 1992 het hierdie swemklub die eerste keer die Wes-Transvaal (nou Noordwes) kampioenskappe gewen. Hierdie wen was die begin van baie hoogtepunte.
Enkele van hierdie hoogtepunte wat uitgelig kan word is die volgende:
•Hannes-Walt de Klerk het aan die wêreldkampioenskap vir Down Sindroom atlete deelgeneem en wêreldrekords laat spat in die 100m medley, 50m vryslag en 50m borsslag.
•Hardus Louw het op 14-jarige ouderdom 24 nuwe rekords opgestel.
•Eliz-Maric Cronje het op 15-jarige ouderdom 11 rekords in een seisoen verbeter.
•Mark Penhall het in 1997 op 13-jarige ouderdom aan ‘n Internasionale Age Group Gala in Taiwan deelgeneem, waar hy vyfde gekom het in die 50m vryslag met ‘n tyd van 26.26 sekondes.
•Twee swemmers wat deel was van Potchefstroom Swemklub, het later aan die Olimpiese Spele deelgeneem, naamlik William Diering en Corné Swanepoel (hy het vir Nieu-Seeland deelgeneem).
•Ivan du Toit het aan die Olimpiese Spele vir mense wat doof is deelgeneem en die aflosspan waarvan hy deel was, het ‘n wêreldrekord verbeter.
•Tristan Marais is in 2012 gekies om aan die CANA Zone VI kampioenskappe (Afrika spele) wat in Zambië aangebied is, deel te neem. Daar het hy ‘n goue medalje vir 50m vryslag aflos ontvang, silwer medaljes vir 50m vryslag, 50m rugslag en 50m vlinderslag, asook ‘n brons medalje vir 100m vryslag en 100m rugslag.
•Zoli Nebe de Kock wat vir 22 jaar, vanaf 5-jarige ouderdom, onder Carine Cronje se afrigting geswem het, het op 24 Januarie vanjaar die Suid-Afrikaanse 70.3 Ironman-kompetisie vir vroue in haar ouderdomskategorie gewen en onlangs Suid-Afrika in die wêreldkampioenskappe in Australië verteenwoordig. Sy is een van die klub se afrigters.
Tans het die klub 232 swemmers en vier afrigters. Onder hulle afrigting was die klub die afgelope twee seisoene wenners van die provinsiale kortbad kampioenskap, sowel as die algehele wenners van die Noordwes kampioenskappe. Potchefstroom Swemklub bied “Learn to Swim” (babas vanaf 6 maande is welkom), asook afrigting in basiese style, gevorderde style en gala’s aan.
Wat het verander oor die jare?
Kleredrag en wyses van betaling. Waar is die tyd van wolsweetpakke? Vandag wil die swemmers nie daarin gesien word nie. En betaling was enigiets van groente, vleis en beskuit tot die brei van truie. ‘n Swemmer, Shaun Leach, het ‘n kafee in sy rugsak saamgedra waarmee hy sy sakgeld verdien het. Vandag bestaan Potchefstroom Swemklub uit gelukkige, gemotiveerde swemmers met afrigters wat in elke kind as individu belangstel. Daar word uitgesien na ‘n nuwe swemseisoen wat voorlê en die swemmers hoop om vir die derde agtereenvolgende jaar as Noordwes kortbadkampioene by Pecanwood op 24 en 25 September gekroon te word. Die swemklub bedank die inwoners vir hul ondersteuning en die borge wat hierdie spesiale uitgawe moontlik gemaak het.