Kan die Valke weer die Luiperds skok?
Die Valke het met ‘n oorwinning in die laaste groepwedstryd in die vierde plek op die punteleer ingeskuif en so deurgedring na die halfeind teen die Luiperds en wel Vrydagmiddag om 17:00 op Olënpark. Getroue Luiperdondersteuners sal beslis daardie aaklige dag op 3 Oktober 2014 op die einste Olënpark onthou toe die Valke die Luiperds, …

Die Valke het met ‘n oorwinning in die laaste groepwedstryd in die vierde plek op die punteleer ingeskuif en so deurgedring na die halfeind teen die Luiperds en wel Vrydagmiddag om 17:00 op Olënpark.
Getroue Luiperdondersteuners sal beslis daardie aaklige dag op 3 Oktober 2014 op die einste Olënpark onthou toe die Valke die Luiperds, wat soos vanjaar op die kruin van die golf was, geskok het met ‘n oorwinning van 31-24 in die halfeindstryd.
Dit was die einde van die pad vir die Luiperds en die Valke het toe in die eindstryd teen die Griffons verloor.
Wat hierdie nederlaag nog seerder gemaak het, is die feit dat die Luiperds die Valke ‘n week vroeër met 50-29 geklop het.
Die Luiperds het die ligafase vanjaar totaal oorheers en het al vyf hulle wedstryde met ‘n bonuspunt gewen om op 25 punte te staan.
Die Valke, daarenteen, kon net twee wedstryde wen en het deurgeskuur na die halfeind met net 12 ligapunte.
Vrydagmiddag tel die geskiedenis nie, net dit wat op die telbord staan as die eindfluitjie blaas. Verskyn die Luiperds se naam in die wenkolom, speel hulle volgende week teen of die Griffons of Grens, ook op Olënpark.



