Luiperds wil Valke se vlerke in halfeindstryd knip
Die Luiperds se rugbyfabriek is in volle produksie en word Vrydagmiddag om 17:00 op Olënpark se verhoog ten toon gestel wanneer hulle in ‘n Eersteliga-halfeindstryd teen die Valke te staan kom. Rhyno Smith en Benhard Janse van Rensburg is onlangs deur die Sharks gekontrakteer, maar die Luiperds produseer steeds talent op hul vervoerband. Een van …

Die Luiperds se rugbyfabriek is in volle produksie en word Vrydagmiddag om 17:00 op Olënpark se verhoog ten toon gestel wanneer hulle in ‘n Eersteliga-halfeindstryd teen die Valke te staan kom. Rhyno Smith en Benhard Janse van Rensburg is onlangs deur die Sharks gekontrakteer, maar die Luiperds produseer steeds talent op hul vervoerband.
Een van hulle is die Luiperds se Namibiese toetssenter, Johan Deysel wat in dié kompetisie na Smith en Van Rensburg se vertrek as ‘n stelskopper van formaat ontpop het.
Deysel, wat reeds met ‘n toetsdrie teen die All Blacks spog, het in die Luipies se afgelope vier wedstryde altesaam 66 punte, teen ‘n gemiddeld van 16,5 punte per wedstryd, aangeteken.
Die “gemaakte” losskakel Gene Willemse, wat uit nood op tien ingespan is na Van Rensburg en Smith se vertrek, het ook sy kans aangegryp en is tans die voorste driedrukker in die kompetisie op sewe.
Die groot flank HP Swart is met ses drieë agter sy naam, kort op sy hakke. Die Luiperds het nog elke wedstryd gerieflik gewen en het nog ‘n ekstra pyl in hul koker op regtervleuel in Dean Gordon, wat in sy buiging twee drieë gedruk het. Deysel, sy sentermaat Juffrou Vermeulen, Gordon en sy vleuelmaat, die heelagter Jaco Hayward en Willemse is almal in staat om die verdediging aan flarde te skeur. Chriswill September keer vir die halfeind terug en Malherbe Swart, wat vir hom plek maak, is een van net twee agterspeler-reserwes op die bank.
Voor keer Walt Vermeulen terug op slot in Dutchie Robertse se plek, terwyl Jaco Jordaan vir Juan Language vervang. Die vierde verandering is op haker, waar Dane van der Westhuyzen in Louis van der Westhuizen se plek begin.
Luiperds teen Valke:
Jaco Hayward; Dean Gordon, Juffrou Vermeulen, Johan Deysel, Bradley Moolman; Gene Willemse, Chriswill September; Jeandré Rudolph (kaptein), HP Swart, Jaco Jordaan, Walt Vermeulen, Stairs Mhlongo, Panda Dekker, Dane van der Westhuyzen en Roan Grobbelaar. Reserwes: Wilmar Arnoldi, Kabelo Motaung, Dutchie Robbertse, Loftus Morrison, Marno Redelinghuys, Malherbe Swart, Sandile Khubeka.



