SportSport

Puk 1 se Wihan Lubbe slaan indrukwekkende honderdtal

Die NWU Puk 1 krieketspan het weer eens bewys dat hulle genoeg wapens in hulle arsenaal op beide kolf- en boulvlak het toe hulle verlede naweek  Potch Dorp Krieketklub se tweede span met 83 lopies by die Witrand Krieketveld geklop het. Pukke maak 327/8 in hulle 50 boulbeurte met Potch Dorp wat net met 244/9 …

Die NWU Puk 1 krieketspan het weer eens bewys dat hulle genoeg wapens in hulle arsenaal op beide kolf- en boulvlak het toe hulle verlede naweek  Potch Dorp Krieketklub se tweede span met 83 lopies by die Witrand Krieketveld geklop het.

Pukke maak 327/8 in hulle 50 boulbeurte met Potch Dorp wat net met 244/9 kon antwoord.

Potch Dorp het die loot gewen en vir Pukke ingestuur om eerste op ‘n taamlike groen kolfblad te gaan kolf. Dit was in die begin harde werk vir Pukke se aanvangskolwers, Ruan Haasbroek en Richardt Frenz, wat 43 lopies vir die eerste paaltjie bymekaar gemaak het. Frenz is die eerste een wat kleedkamer toe is, toe hy Jaco Grobbelaar se vol bal misgis het en die doodsklank van die houtpaaltjie moes aanhoor.

Haasbroek is kort daarna vir 14 uit en Marques Ackerman volg hom kort daarna vir 9. Wihan Lubbe met 104 en Hanco Olivier met 67 neem toe sake in eie hande met ‘n pragtige 188 lopie vennootskap wat die kern van Puk se oorwinning gevorm het.

Lubbe se honderdtal het ook 6 sesse en 6 viere ingesluit. Driaan Weyers het 3/54 van sy 10 boulbeurte geneem, terwyl Grobbelaar 4/88 behaal het.

Die grootste ligpunt in Potch Dorp se kolfvertoning was Nico Myburgh se 139 (122) wat 20 viere en 5 sesse ingesluit het. Ongelukkig kon niemand lank genoeg saam met Myburgh kolf nie en toe sy paaltjie op 180/6 val, was die koeël deur die kerk. Samuel Pieterse se 30* was die tweede hoogste telling.

Elkeen van Pukke se boulers het hulle staal gewys met Hanco Olivier wat met 3/39 die beste syfers gelewer het. Jovaun van Wyngaardt se 2/25 in 10 boulbeurte was ook noemenswaardig en het die platform vir ‘n gemaklike oorwinning gelê.

Kyk die foto’s hier: https://www.citizen.co.za/potchefstroom-herald/25487/fotos-puk-1-en-potch-dorp-2-vat-mekaar-aan-op-witrand/

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button