Schlebusch en Marais skitter vanaf Strydenburg met hul duifies
Johan Schlebusch van Mooirivier Resiesduif- klub en Kiewiet Marais van Potchefstroom Posduifklub het beide ‘n uitstekende naweek gehad in die wedvlug vanaf Strydenburg oor ‘n afstand van 493 km. In die jaaroudwedvlug het Schlebusch se eerste vier duifies almal gelyk geland en binne 9 sekondes oor die elektroniese mat geloop, terwyl prokureur Hennie Aucamp hier …

Johan Schlebusch van Mooirivier Resiesduif- klub en Kiewiet Marais van Potchefstroom Posduifklub het beide ‘n uitstekende naweek gehad in die wedvlug vanaf Strydenburg oor ‘n afstand van 493 km.
In die jaaroudwedvlug het Schlebusch se eerste vier duifies almal gelyk geland en binne 9 sekondes oor die elektroniese mat geloop, terwyl prokureur Hennie Aucamp hier die vyfde plek verower het, slegs vyftien sekondes na die wenduif.
In die ope-wedvlug maak oud-onnie Arrie Marais die eerste plek syne, met Johan van Wyk net nege sekondes na hom. Schlebusch eindig hier derde en vierde.
In die ope-wedvlug mors 2016 se uniekampioen Kiewiet Marais, weer met sy klubmaats deur die eerste vyf plekke te verower. Sy eerste duif land 1min 42 sekondes voor die res, waar sy ander drie duiwe binne vyf sekondes die hok binne- gaan. In die jaaroud-vlug is dit verkeersman Nic Stassen se jonge wat wen, met Sarel Naudé se “B” span duif tweede en “A” span duif derde.
In die Westelike Posduifunie wat sover suid soos Wesselsbron strek, maak die Potch manne behoorlik “fynkos” van die res van die unie se duiweboere. In die jaaroud-afdeling vlieg Schlebusch voor met 3468 punte.
Alhoewel Sarel Naudé se 2 392 en Marnes Nel se 2 335 se punte baie minder klink as die voorloper s’n, kan die manne in duiwesport maklik 700 punte op ‘n naweek bymekaar maak. In die ope-afdeling in die unie is Sarel Naudé se “A” span voor met 3 182, Kiewiet Marais tweede met 2 815 en Schlebusch derde met 2 636. Die eerste vyf plekke in die Uniekampioen-kompetisie lyk soos volg: Schlebusch 6 104, Naudé “A” 5 574, Kiewiet & Christo hokke 4 836, J.J. van Wyk & seuns 4 084 en Naudé “B” 4 054.
In die Klubskild-kompetisie is die stryd weer fel tussen MRK (57 punte) en P.P.K. (53 punte). Wesselsbron is in die derde posisie met 35. Die volgende wedvlug wat gaan plaasvind is vanaf Prieska oor ‘n afstand van 538 km.
“Veilig vlieg ou kleintjie!”



