Potch Dorp Rugbyklub het nou ‘n Vroue Blitzbok in hulle midde
Potchefstroom Dorp Rugbyklub se skitterspeler, Ferana van Heerden, speel maar net agt maande rugby, maar met ’n kombinasie van harde werk, passie en emmers vol talent is hierdie Potchefstromer nou ‘n Vroue Blitzbok Rugbyspeler. Van Heerden se merkwaardige rugbyreis waar sy in Januarie begin speel het en intussen Luiperdskleure verkry het, het ekstra momentum in …
Potchefstroom Dorp Rugbyklub se skitterspeler, Ferana van Heerden, speel maar net agt maande rugby, maar met ’n kombinasie van harde werk, passie en emmers vol talent is hierdie Potchefstromer nou ‘n Vroue Blitzbok Rugbyspeler.

Van Heerden se merkwaardige rugbyreis waar sy in Januarie begin speel het en intussen Luiperdskleure verkry het, het ekstra momentum in Augustus gekry toe die besoekende SA Vroue Blitzbok-span haar in ’n oefenwedstryd in Potch raakgesien het.

Nou, slegs ‘n maand later, bevind sy haarself in Japan saam met die uitgesoekte groep spelers waar sy gereed is om dié geleentheid met albei hande aan te gryp.
“Dit vat baie harde werk en dissipline om hier uit te kom. Dit was ook belangrik om na my afrigters te luister en hulle raad te volg. Dit het my ‘n beter speler gemaak omdat ek dit kop toe gevat het,” noem sy.
Volgens Van Heerden is sy “lief vir rugby” en met hierdie passie glo sy dat sy ver sal kom.
“In my hart wil ek ‘n groot sukses met hierdie geleentheid maak. Ek geniet die tyd hier saam met die Vroue Blitzbokke,” sê sy.




