NWU as wêreldkampioene gekroon
“Beste in die wêreld”. Hierdie naam word aan net ’n uitgelese groep gegee – ’n getuigskrif van jou toewyding aan jou kuns. Of dit nou voor of na die naam kom, vanaf 16 September tot aan die begin van die Varsity Kriekettoernooi vroeg in 2018, is dit hoe die Noordwes-Universiteit (NWU) se krieketspan bekend sal …

“Beste in die wêreld”. Hierdie naam word aan net ’n uitgelese groep gegee – ’n getuigskrif van jou toewyding aan jou kuns. Of dit nou voor of na die naam kom, vanaf 16 September tot aan die begin van die Varsity Kriekettoernooi vroeg in 2018, is dit hoe die Noordwes-Universiteit (NWU) se krieketspan bekend sal staan. Dít nadat Conrad de Swardt se span hulle Varsity Krieket-kroon aangevul het deur die Red Bull Kampuskrieket Wêreldeindronde in Colombo, Sri Lanka te wen.
Spelers van Suid-Afrika, Australië, Pakistan, Indië, Sri Lanka, Bangladesj, die Verenigde Arabiese Emirate en Zimbabwe het aan die toernooi deelgeneem.
Die NWU, wat Suid-Afrika amptelik verteenwoordig het, het hulle eilandgashere maklik genoeg in die eindronde geklop deur hulle totaal van 121 almal uit in net 15.2 boulbeurte te bereik. Die NWU het hulle veldtog begin met ’n naelbyt-oorwinning met 6 paaltjies oor Australië voordat hulle Indië (72 lopies), Pakistan (76 lopies) en Bangladesj (7 paaltjies) geklop het.
Janneman Malan het die meeste lopies in die toernooi aangeteken met 259 lopies, en was ook die kompetisie se waardevolste speler. Die volgende op die lys was die NWU-ster Wihan Lubbe, met 152 lopies en die toekenning as die derde waardevolste speler. Die NWU se Dyllin Matthews het die meeste paaltjies geneem, met 12 op sy kerfstok.
Volgens NWU se afrigter, Conrad de Swardt, was dit ’n ervaring om te onthou: “Dit klink amper ’n bietjie eienaardig om die beste universiteitskrieketspan in die wêreld genoem te word. Dit het baie harde werk gekos om hier te kom – dit was ’n drie- tot vierjaarproses om hierdie span te omvorm tot wat dit nou is. Ek dink die wonderlikste ding is om te sien hoe seuns in jong, verantwoordelike mans ontwikkel het wat nou in die T20 Wêreldliga krieket gaan speel. Ek kan eerlikwaar sê dat die NWU en Tuks uit ’n universiteitsperspektief die twee topklubkrieketspanne ter wêreld is. In die meeste krieketspanne is daar vyf of ses spelers op wie jy staatmaak om die wedstryd deur te haak. Ons het ’n span van 13 spelers op wie ons kan staatmaak. Maar dan – dit is 20-beurtkrieket en enigiets kan gebeur. Een speler kan ’n span verander. Dit was ’n moeilike uitdaging, en ek is uiters trots op die manier waarop die ouens as ’n span saamgewerk het.”
Die toestande in Sri Lanka was ’n unieke en ietwat onvoorspelbare hindernis.
“Ons het verwag dat die kolfblad baie gaan draai en dat die bal laag gaan bly, en die bal het gedraai, maar ons kon die kort bal uitstekend gebruik, die tempo van die kolfblad was redelik en ons ouens het baie slim geboul. Dit is egter moeilik om die humiditeit te beskryf. Dit is soos Durban – met drie vermenigvuldig. Ons moes twee stelle toerusting per wedstryd gebruik omdat die spelers soveel sweet, en dit het ’n rukke geneem om aan die kos gewoond te raak,” sê De Swardt.
Dit was ook vir hom ’n persoonlike oorwinning en ’n bevestiging van sy geloof in die spelers.
“Toe ons vroeër hierdie jaar die Varsity Kriekettoernooi in Potchefstroom gewen het, was daar ’n geweldige gevoel van verligting omdat dit die derde probeerslag op ons tuisveld as. Vir my persoonlik was dit ’n surrealistiese ervaring. Ek het al soveel nagte om gedink oor hoe die klub sterker gemaak kan word. Nou het ons twee trofeë in die kas.”
De Swardt is egter vas oortuig dat die klub se sukses nie net aan sy insette toegeskryf kan word nie.
“Hierdie klub sou nie die sukses kom behaal wat ons behaal het sonder die toewyding van Niel Bredenkamp, Pieter Knoetze en Walter Fokkens nie. Hulle het ’n ongelooflike werksetiek en ’n onwrikbare verbintenis tot die klub. Alle krediet aan hulle ook.”
Plaaslike kampioene en wêreldkampioene. Waar sou die NWU gewees het as daar op Mars krieket gespeel is?
Foto’s: NWU-Pukke Cricket Club/Facebook









