Hotklou lei Mooirivier na Noordwes-kriekettitel
‘n Uitstekende onoorwonne 90 (61) van Martin van Onselen was die fondasie wat Laerskool Mooirivier na ‘n 74 lopie oorwinning teen Laerskool Bailliepark in die Noordwesfinaal vir laerskole gelei het. Saam met Benjamin Viljoen (37 van 38 balle), het Van Onselen ‘n briljante 106 lopie vennootskap vir die vyfde paaltjie opgestel om die wedstryd uit …
‘n Uitstekende onoorwonne 90 (61) van Martin van Onselen was die fondasie wat Laerskool Mooirivier na ‘n 74 lopie oorwinning teen Laerskool Bailliepark in die Noordwesfinaal vir laerskole gelei het.
Saam met Benjamin Viljoen (37 van 38 balle), het Van Onselen ‘n briljante 106 lopie vennootskap vir die vyfde paaltjie opgestel om die wedstryd uit Bailliepark se hande verlede Donderdag (21 September) op Witrand te kolf. Hulle groottotaal van 235/5 na 30 boulbeurte was net een te veel vir die Baillies, wie se boulers nie die beste dag op die veld beleef het nie. Hulle het 36 wydlopers afgestuur en dit het sake glad nie gehelp nie.
Armand Willemse was Bailliepark se beste bouler met 2/33 in ses boulbeurte.
Bailliepark het hulle jaagtog goed begin met kaptein Corné Prinsloo wat 64 (62) aangeteken het en saam met Armand Willemse ‘n goeie 72 lopie openingsvennootskap aanmekaar geslaan het. Cornel Grobbelaar het toe vir Mooirivier die deurbraak gemaak toe hy Willemse se paaltjie laat kantel het. Van Onselen was met sy boulwerk ook ‘n doring in Bailliepark se vlees en hy het van Nandin Gernandt ontslae geraak met die telling op 91/2 na 16 boulbeute.
Die groot paaltjie was wel Prinsloo s’n en na 22 kolfbeurte het Marko Werkman uiteindelik van Prinsloo ontslae geraak.
Dit het die kameel se rug gebreek en Mooirivier kon toe gemaklik hulle beurte uitboul om Bailliepark tot 161/7 te beperk. Sodoende kan Mooirivier die welverdiende trofee omhoog hou as kampioene.
Foto’s: Wouter Pienaar




























