SportSport

Volkies het uiteindelik hulle hande op NW se groot krieketprys

Die krieket-apie het nou uiteindelik van Hoër Volkskool Potchefstroom se rug af geklouter nadat die eerste krieketspan vir die eerste keer in 22 jaar die Noordwestitel in hulle besit het. Dit na ’n ongemaklike en senutergende een paaltjie-oorwinning teen Gimmies die afgelope Saterdag, 14 Oktober op Volkies se tuisveld. Die afgelope paar jaar moes Volkies …

Die krieket-apie het nou uiteindelik van Hoër Volkskool Potchefstroom se rug af geklouter nadat die eerste krieketspan vir die eerste keer in 22 jaar die Noordwestitel in hulle besit het.
Dit na ’n ongemaklike en senutergende een paaltjie-oorwinning teen Gimmies die afgelope Saterdag, 14 Oktober op Volkies se tuisveld.
Die afgelope paar jaar moes Volkies talle kere in ’n finaal die tweede plek gevoel beleef, maar toe die tuisspan vir Gimmies in die Noordwesfinaal Saterdag vir slegs 146 uitgeknikker het, het Volkies al reeds een hand op die trofee gehad.
Gimmies het wel seker gemaak dat hulle die beste van ‘n slegte saak maak, toe hulle so amper die titel onder Volkies se neuse weggeraap het. ’n Mens moet jou hoed vir Gimmies afhaal wat nooit ophou veg het nie en konstant op Volkies se senuwees druk uitgeoefen het.
Op die ou einde het Volkies amper die wedstryd met ’n kolfineenstorting weggegooi, maar Cobus Crowther het kopgehou en elke bal op meriete gespeel. Toe nommer 11 kolwer, Le Roux White die veld betree, kort Volkies nog 1 lopie van 1 bal af, terwyl Gimmies een paaltjie benodig om die wedstryd gelykop te laat eindig.

Sport
Die afrigters kan skaars kyk, die ouers byt hulle naels en daar is ’n doodse stilte. White slaan Ricus Swart se bal summier soos witblits grens toe en ’n reuse gedreun van blydskap vul die veld soos sy spanmaats feesvier. Swart was Gimmies se held wat amper vir ’n ongelooflike terugvegpoging vir Gimmies gesorg het met vier groot paaltjies aan die einde van die beurt.
Swart het die hele seisoen al ‘n goue arm gehad en weer het hy sommer met sy eerste bal van Volkies se paaltjiewagter, Martin Fourie, ontslae geraak toe hy ’n vangskoot van sy eie boulwerk neem. Herman Prinsloo, Jannie Claassens en Waldu Kotze was sy volgende slagoffers, totdat White die laaste sê in die wip-wa stryd het.
Vroeër het Volkies se Louis van Schalkwyk (39) en Vincent Viljoen (32) ‘n uitstekende 65 lopie vennootskap aanmekaar gesit. Hulle was die enigste kolwers wat werklik gemaklik en in beheer gelyk het. Gimmies se Duan en Marco Jansen was ook venynig met hulle akkurate en ekonomiese boulwerk.
Gimmies sal wel nadat hulle so naby gekom het, veral teleurgesteld wees met hoe hulle kolfwerk hulle in die steek gelaat het. Ronald Hendricks het met 29 die meeste lopies aangeteken, en toe hy uitgehardloop is, het dit verder in ‘n opdraande stryd vir Gimmies se kolwers ontaard. White se 2/27 en Timothy Malan se 2/17 was die hoogtepunte in ’n algehele puik Volkskool boulvertoning.
Die eerstespan se oorwinning het ‘n goue dag vir Volkies krieket afgesluit met die o.15 A- en B-spanne wat ook vroeër die dag as Noordweswenners aangewys is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button