Sweeftuie baljaar oor Potchefstroom tydens SA kampioenskappe
Sweefkuns geniet tans groot belangstelling in Suid-Afrika. In Potchefstroom is daar ‘n merkbare belangstelling onder veral die jonger geslag, na die onlangse Suid-Afrikaanse Sweeftuigkampioenkappe vir 2017 wat vanaf 1 tot 7 Oktober by die Potchefstroomse vliegveld plaasgevind het. Die vraag ontstaan of die prestasie van die 14-jarige Dicky Daly van Potchefstroom, wat onlangs die jongste …
Sweefkuns geniet tans groot belangstelling in Suid-Afrika.
In Potchefstroom is daar ‘n merkbare belangstelling onder veral die jonger geslag, na die onlangse Suid-Afrikaanse Sweeftuigkampioenkappe vir 2017 wat vanaf 1 tot 7 Oktober by die Potchefstroomse vliegveld plaasgevind het.
Die vraag ontstaan of die prestasie van die 14-jarige Dicky Daly van Potchefstroom, wat onlangs die jongste vlieënier in Suid-Afrika geword het om solo te vlieg, nie vir die belangstelling verantwoordelik is nie!
‘n Rekord getal inskrywings van 51 is vir vanjaar se sweeftuigkampioenskappe ontvang. Vlieëniers het as gesoute en ervare sweeftuig vlieëniers in vier afdelings meegeding. Vanaf dag een was die mededinging besonder straf en vlieëniers moes streng volgens voorskrifte sekere roetes voltooi.
Dit het man en tuig gekos om sonder motoriese aandrywing, die afstande binne die kortste tyd af te lê. Vanjaar se kampioenskappe het vier afdelings gehad: Klubklas, afdelings vir 15 meter;18 meter en dubbelkajuit sweeftuie.
Hoewel die weer tot en met die laaste dag saamgespeel het, is ervare vlieëniers met hul pragtige tuie binne die vasgestelde veiligheidsreëls op moeder aarde gehou, maar is nie hierdeur van stryk gebring nie omdat sweeftuigsport die goeie naam as ‘n veilige sport handhaaf. Aan die einde van die kompetisie het A.P. Kotze (Klubklas), Mark Halliday (15 meter klas) en Oscar Goudriaan (18 meter klas) die eerste plekke behaal, terwyl vlieëniers Adriaan Schaap en R. Taljaard met die lourierkrans vir dubbelkajuit sweeftuie weggestap het! Kenmerkend van die vliegsport is deeglikheid, vernuf, veiligheid en sportmanskap. Reeds van ligdag af op die eerste dag, was daar ‘n gewerskaf om die papierwerk af te handel en om die sweeftuie in posisie te plaas. Honderde kilometer moes binne elke klas op voorafbepaalde roetes afgelê word en dit was opwindend om te sien hoe die sweeftuie, een na die ander, geruisloos die bloute in is.
Deelnemers is aan streng voorvereistes onderwerp en opmerklik was dat elke vlieënier en sy tuig dit stiptelik nagekom het en na die beste van hul vermoë probeer het om hul deelname binne rekordtye af te rond.
Aan die einde van die kompetisie het die vlieëniers van die sweeftuie wat soos “buiteruimtelike wesens” in die bloute vertoon het, dit eens gehad dat Potchefstroom se lugruim vriendelik en skoon is en dat die kompetisie ‘n groot sukses was.
Die SA span wat in 2018 aan die 35e Wêreld Sweeftuigkampioenskappe in Poland gaan deelneem, sal binnekort aangekondig word.



