Beeldskone en uitdagende roetes nou in Deerling se visier
“Ek soek wedlope wat interessant is en ‘n uitdaging bied met natuurskoon. Dis waarom ek kilometers ver reis na Magersfontein en binnekort na Clocolan vir die 3 Mountains veldwedloop (trail run). Mense sal dink ek is laf maar my passie vir hardloop vat my ver.” Dit is die modus operandi vir die bekende Potchefstromer, Nico …
“Ek soek wedlope wat interessant is en ‘n uitdaging bied met natuurskoon. Dis waarom ek kilometers ver reis na Magersfontein en binnekort na Clocolan vir die 3 Mountains veldwedloop (trail run). Mense sal dink ek is laf maar my passie vir hardloop vat my ver.”
Dit is die modus operandi vir die bekende Potchefstromer, Nico Deerling, wat met dekades se atletiekervaring agter die rug, tans op goeie dreef is om sy suksesvolle jaar op ’n hoogtepunt af te sluit.
Deerling het vanjaar talle eerste plekke in verskeie plaaslike en nasionale wedlope behaal en hy glo dat hy tans in sy beste vorm nog is. Sy eerste plekke by die onlangse Boesmansgat 21 km trail run sowel as die Vlakvark-wedloop naby Klerksdorp, is ’n bewys dat hierdie langasem sy passie en talente uitleef.
“Nou sien ek baie uit na die Magersfontein veldwedloop wat op 9 Desember gaan plaasvind. Die volgende groot wedloop na Magersfontein is die 3 Mountains (22-25 Maart 2018) wat my aandag trek. Dié veldwedloop in Clocolan bestaan uit vier dae se hardloop en sluit ‘n aand-roete in,” vertel Deerling opgewonde.
Die totale afstand van die 3 Mountains veldwedloop behels 60 kilometer met deelnemers wat daagliks dan van punt tot punt nuwe roetes hardloop. Die kostes beloop R1 300 net vir inskrywingsgeld, met Deerling wat vervoer en ander verblyfkostes ook sal moet betaal.
“Ek gaan vir daardie vier dae in ‘n tent kamp wat ‘n unieke ervaring sal wees. Dit sal wonderlik wees as iemand my kan borg om my finansieel te help. Ek sien baie uit om deel te neem,” het Deerling genoem.
Enigeen wat hom kan borg, kan hom by 076 612 5242 kontak.




