ML Fick se kampioenstapper trap goue spore
Koel en kalm op die atletiekveld hou ML Fick se SA kampioen stapper, Janise Nell, haar oog op die eindstreep – een wat sy die afgelope jaar gereeld met haar teenstanders ver agter haar gekruis het. Een van hierdie eerste plekke was by die onlangse Sub Jeug Interprovinsiale byeenkoms wat op 18 November op die …
Koel en kalm op die atletiekveld hou ML Fick se SA kampioen stapper, Janise Nell, haar oog op die eindstreep – een wat sy die afgelope jaar gereeld met haar teenstanders ver agter haar gekruis het.
Een van hierdie eerste plekke was by die onlangse Sub Jeug Interprovinsiale byeenkoms wat op 18 November op die Pilditch Stadion in Pretoria plaasgevind het.
Hier het sy in ‘n tyd van 7:37 in die 1500 meter stap uitgeblink en die sterk kompetisie in haar spoor gelaat. By die plaaslike ACNW Sub-Jeug kampioenskappe vroeër die maand, het sy nog beter gevaar en ‘n ongelooflike tyd van 6:55 opgestel om die 7-minuut grens vir die eerste keer in haar loopbaan te breek.
Hierdie tyd is vinniger as die huidige SA Skole beste vir seuns en dogters in haar ouderdomskategorie – ‘n yslike 18 sekondes vinniger as die beste seunstyd!
Saam met Groenewald het hierdie jong blonde atleet begin blom en in April vanjaar in Potchefstroom by die Laerskole SA Kampioenskappe op tuisgrond, is sy as die SA kampioen in die 1500 meter stap gekroon.
Hierdie tyd van 7:32 is die vierde vinnigste tyd nog by die SA’s en was behoorlik ‘n wegholoorwinning met die dat sy 150 meter voor haar teenstanders was.
“Ek is baie bly oor my tyd en eerste plek by die Sub-Jeug kampioenskappe in Pretoria. Die kompetisie was baie sterk, maar dit was vir my lekkerder as die SA kampioenskappe in Potch.
Daar was meer sportmansgees by die Sub-Jeug kampioenskappe en ek kon ‘n paar nuwe vriende op die atletiekbaan maak,” meen Janise.
Janise is wel ook nederig oor haar prestasies en glo dat daar nie ekstra druk oor haar nommer een status is nie.
“Ek vat elke wedloop stap vir stap en fokus net op elke wedloop soos dit kom en probeer om dit so veel as moontlik te geniet.”







