Deursettingsvermoë laat Potchefstromer berge versit in 100 km marathon
Om ‘n 100 kilometer bergmarathon aan te durf en boonop te voltooi, sit nie in enige man se voetsole nie, maar Potchefstroom se Jaco Barnard het op Saterdag 18 November die majestueuse, Sky Run in die Witteberge naby Lesotho met vlieënde vaandels oor die eindstreep gegaan. Die skilderagtige bergreeks en natuurtonele lyk absoluut hemels, maar …
Om ‘n 100 kilometer bergmarathon aan te durf en boonop te voltooi, sit nie in enige man se voetsole nie, maar Potchefstroom se Jaco Barnard het op Saterdag 18 November die majestueuse, Sky Run in die Witteberge naby Lesotho met vlieënde vaandels oor die eindstreep gegaan.
Die skilderagtige bergreeks en natuurtonele lyk absoluut hemels, maar sonder durf, deursettingsvermoë en ‘n kanniedood houding kan hierdie roete in ‘n lewende hel verander.
Die deelnemers aan die 100 kilometer wedloop (daar is ‘n 65 kilometer opsie ook) moet met GPS hulle eie weg vind en hulself op die roete met kos, klere en noodsaaklikhede kan ondersteun. Natuurlik verdubbel hierdie bepalings die algehele uitdaging. Dit is nogal simbolies dat die roete juis op en af met steil klimme en afdraandes is en nes ’n deelnemer se gemoedstoestand fluktueer – iets wat Barnard eerstehands verduidelik.
“Ek het geen idee gehad oor hoe dit presies gaan wees nie en een keer verdwaal, maar ek het toe weer my pad gevind. Dit is ‘n groot kopskuif om te weet dat jy ‘n dag aaneen moet hardloop. Na vyf ure twyfel jy oor waarom jy in die eerste plek so ver wil hardloop.”
Daar is agt punte op die roete waar mediese personeel na atlete kyk en kos en water beskikbaar was. Die afsnytyd vir die taai wedloop is 30 ure en Barnard het in 18 uur en 45 minute klaargemaak.
Die kranige atleet vertel ook dat hy later meer gewoond geraak het aan die toestande en kon toe die laaste 40 kilometer gemaklik draf.
“Net as jy die een berg geklim het, lê daar nog een voor. By die waterpunte is daar lafenis, maar dan weet jy dat jy nog ten minste 40 kilometer oor het. Tog het ek ‘n beter tweede helfte gehad omdat ek stadig begin het om energie te spaar,” vertel die ervare marathonatleet wat onder meer al nege Comrades marathons agter die blad het.
Volgens Barnard, wat ‘n lid van Berts Bricks Atletiekklub is, het die roete verskillende terreine bevat, wat sneeu ook insluit. ‘n Klomp keer het die grondoppervlakte en die helling bepaal of mens kan hardloop of eerder moes loop.
“Ons het baie lekker temperature gehad. Dit was nie baie koud of te warm nie, maar ek het steeds vir 7 kilometer in kniediep sneeu moes loop. Die lekker ding is dat jy nie heeltyd weens die rowwe terrein kan hardloop nie, so dit gee jou kans om weer asem te haal. Van die 100 kilo’s het ek 50 gestap en 50 gehardloop.”
‘n Gevoel van verligting en dankbaarheid het in Barnard geborrel toe hy die spreekwoordelike reis voltooi het. “Die eerste gedagte wat by jou opkom as jy klaar is, is net pure dankbaarheid, veral as jy so in die verte kyk na die roete wat jy moes deurmaak. Daar is ook dankbaarheid dat niks fout gegaan het nie.
“Ek kon maklik ‘n enkel geswik het of ander beserings opgedoen het omdat dit baie rof en daar ‘n afgrond is. Die donker toestande is ook nie maklik nie, al het jy ‘n kopliggie om te help. Met so 12 kilo’s om te gaan is daar ‘n hut wat sop en brood aanbied en daar kon ek toe ‘n paar ander atlete kry wat saam met my oor die eindstreep is. Dit het baie met rigting gehelp en die laaste paar tree makliker gemaak.”
Barnard noem dat hy effens onvoorbereid was en meer vir die ervaring daarvan deelgeneem het. Tog glo hy dat dit iets is wat elke kranige veldren-atleet (trail runner) met genoeg kilo’s op die voete sal kan aanpak.
“Dit sal belangrik wees om tyd op jou bene te kry waar jy genoeg ure in die veld spandeer en ‘n wedloop wat baie klimme het. Hierdie is soos om in die berge te stap, maar jy hardloop net meer,” sluit hy af.








