SportSport

Veelsydige sportman van Amelia blink uit in die swembad

Hannes-Walt de Klerk, ’n 37-jarige inwoner van Amelia Nasorgsentrum, is ‘n gerekende sportman met mosaïek Downsindroom. Dié veelsydige atleet, wat Suid-Afrika reeds met trots by ses wêreldkampioenskappe vir sportlui met intellektuele gestremdhede en/of Downsindroom verteenwoordig het, is onder meer die wêreldrekordhouer in beide die 800m stap-item en die 200m kruipslag swem (meestersafdeling), asook ‘n gereelde …

Hannes-Walt de Klerk, ’n 37-jarige inwoner van Amelia Nasorgsentrum, is ‘n gerekende sportman met mosaïek Downsindroom.
Dié veelsydige atleet, wat Suid-Afrika reeds met trots by ses wêreldkampioenskappe vir sportlui met intellektuele gestremdhede en/of Downsindroom verteenwoordig het, is onder meer die wêreldrekordhouer in beide die 800m stap-item en die 200m kruipslag swem (meestersafdeling), asook ‘n gereelde medaljewenner in spiesgooi, gewigstoot en diskus in die internasionale arena.

Hannes-Walt blink veral uit in swem. Hy het op 24-jarige ouderdom ernstig begin swem en is in 2006 gekies vir die SA Downsindroom swemspan, waar hy in Limerick (Ierland) ‘n nuwe wêreldrekord in die 25m borsslag opgestel het, asook 2 goue, 1 silwer en ‘n bronsmedalje gewen het. Hierna volg ‘n byeenkoms in Taipei (2007) met 2 wêreldrekords en 3 goue, 2 silwer en 1 bronsmedalje.

In 2008 breek hy die rekord in die 100m Individuele Wisselslag en spog met 1 goud, 4 silwer en 1 brons by die Internasionale Downsindroom Swemkampioenskappe in Albufeira (Portugal). Twee jaar later hang hy weer in Tapei 2 goue, 2 silwer en 4 bronsmedaljes om die nek en in 2012 weer 2 silwer en 2 brons in Loano (Italië). In 2016 word Hannes-Walt gekies om Suid-Afrika teen 35 ander lande te verteenwoordig by die Trisome Wêreldspele in Florence (Italië), waar hy saam met vier ander atlete van Amelia Nasorgsentrum ‘n totaal van 13 medaljes inoes!
Hannes-Walt het by vanjaar se SA Swemkampioenskappe 2 goue, 5 silwer en 3 bronsmedaljes ingepalm.

Hy is gekies om Suid-Afrika saam met agt ander swemmers in Julie 2018 in Truro (Kanada) te verteenwoordig en neem DV ook in Oktober deel aan die Downsindroom Atletiek Wêreldkampioenskappe in Madeira (Portugal). Voor hy egter vanjaar sy drome kan realiseer, moet hy eers die hekkie rondom finansies oorbrug nadat die regering en die Lotto hul steun onttrek het. Intussen laat hierdie blymoedige sportman hom nie van stryk bring nie en berei hy kliphard vir die spele in Kanada voor onder die wakende oë van Mickey Olivier, swemafrigter van die NWU-Junior Swemklub en hou hy hom besig met sy ander gunsteling tydverdryf, naamlik houtwerk.

AJR
AJR

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button