SA ringbalspeler wil groter belangstelling in dié sport kweek
Ringbal mag dalk nie die gewildste sport in Potchefstroom wees nie, maar die op en wakker oud-Gimmie, Ruben Smith, wat onlangs vir die o.20 SA ringbalspan gekies is, glo dat die sport groot hoogtes in Potch kan bereik. “Ek wil belangstelling in ringbal kweek in Potch en dit sal vir my die lekkerste wees as …

Ringbal mag dalk nie die gewildste sport in Potchefstroom wees nie, maar die op en wakker oud-Gimmie, Ruben Smith, wat onlangs vir die o.20 SA ringbalspan gekies is, glo dat die sport groot hoogtes in Potch kan bereik.
“Ek wil belangstelling in ringbal kweek in Potch en dit sal vir my die lekkerste wees as ons meer belangstelling in dié sport by skole kry. Ek voel hier is baie talent,” sê hy.
Ruben is buiten sy goeie spel op die baan ook in ‘n administratiewe rol verkies as die ondervoorsitter vir tersiêre instansies in die SA Ringbalraad.
“Een van die groot doelwitte is om ringbal in ‘n universiteitsport by al die groot universiteite te ontwikkel. Ek wil universiteite aanmoedig om dit te begin. Hoe meer ringbal gespeel word, hoe meer blootstelling gaan dit ontvang.”
Ringbal (voorheen bekend as korfbal) is een van die opwindendste sportsoorte wat groot dissipline en energie van spelers vereis.
Dit was meer ‘n geval dat ringbal na Ruben toe gekom het toe hy in graad 5 na ‘n krieketoefening dié sport vir die eerste keer onder oë gekry het.
“Ek sien toe hierdie klomp mense op die korfbalbaan en dit het lekker gelyk. Amper soos netbal, maar tog anders. Een van die spelers het my toe genooi en ek was eers huiwerig, maar toe ek eers speel, het ek dit voluit geniet. Ek het begin speel in graad 5 en 6 en weer in graad 8 en 9 toe ek in Kroonstad was.”
Ruben het op skolevlak die SA Presidentespan gehaal en sy paadjie na ringbalsukses oopgekap tot waar hy vandag trots as ‘n SA-speler bekendstaan.
“Die saadjie van ringbal wat in my geplant is, is nou al so groot soos ‘n boom en ek geniet dit werklik om enige posisie te speel. Ek het SA’s op lynverdediger gekry en ek dink juis hierdie posisie pas my omdat ek die opposisie half irriteer op die baan. Ek praat baie en kan nogal onder die vel van die opposisie doel inkom,” vertel Ruben.
“Ek het na die nasionale toernooi gegaan om nie my hart daarop te sit dat ek die SA-span gaan haal nie. Ek was nogal verbaas omdat die kompetisie so straf was, maar was ongelooflik bly om gekies te word.”
Die Kenneth Kaunda-distrik het algeheel derde geëindig in die o.20 en o.23 liga wat gemeng was. Gauteng-Noord eindig tweede en Ekurhuleni- Noord het eerste geëindig.




