Volkies gereed vir Die Anker in groot tuis Virsekerbeker-kwartfinaal Saterdag
‘n Driekuns uit die boonste rakke van Hoër Volkskool Potchefstroom se kookwater eerstespan regtervleuel, Gustav Erlank, het verseker dat sy span met ‘n 31-10 oorwinning teen Hoërskool Ellisras na die kwartfinaal van die Virsekerbeker se tweede divisie vorder. Ellisras het alles probeer om Volkies se wedstrydplan te ontwrig, maar laasgenoemde het verlede Saterdag net te …

‘n Driekuns uit die boonste rakke van Hoër Volkskool Potchefstroom se kookwater eerstespan regtervleuel, Gustav Erlank, het verseker dat sy span met ‘n 31-10 oorwinning teen Hoërskool Ellisras na die kwartfinaal van die Virsekerbeker se tweede divisie vorder.
Ellisras het alles probeer om Volkies se wedstrydplan te ontwrig, maar laasgenoemde het verlede Saterdag net te veel skietgoed gehad en kon danksy Erlank se driekuns, sowel as drieë van Rikus van Zyl en André Smit, die wen geniet.
Daar was wel ‘n skermutseling of twee na die eindfluitjie waar die bloeddruk oorgekook het, maar op die ou einde was die gort alreeds lankal gaar vir die seuns van Ellisras.
Volgens Volkies se eerstespanafrigter, Christo van Heerden, het die oopkantflank, Dion Bezuidenhout die wedstryd van sy lewe gespeel en duikslae met mening uitgedeel.
“Dion was ongelooflik met sy werksverrigting en het omtrent die helfte van die span se duikslae uitgevoer. Gustav het ook ‘n goeie wedstryd gehad en elke keer vir ons voordeel gegee as hy die bal gehad het, wat ons baie gehelp het,” het Van Heerden sy spelers geprys.
Volkies gaan nou hierdie komende Saterdag (4 Augustus) teen Hoërskool Die Anker in ‘n tuis kwartfinaal te staan kom en sal moet weet dat ‘n oorwinning nie ‘n uitgemaakte saak is nie.
Van Heerden, met al sy ervaring weet ook self dat Volkies op hulle beste teen dié Brakpanners sal moet wees.
“Ons het hulle vanjaar in die NWU Prestige-reeks vir die eerste keer geklop en ons sal goed op die grond moet wees en vir die bal kompeteer. Hulle is ’n sterk span wat goed op die grond is. Dit gaan belangrik vir ons wees om as ‘n span te speel en glad nie individualisties te wees nie.”
Die wedstryd skop Saterdag om 10:00 af.
* Volkies se o.15A-span se roete na Virsekerbekerglorie is ook nog steeds op dreef, nadat hulle in ‘n taai wedstryd vir Hoërskool Merensky van Tzaneen met 18-15 geklop het. Hierdie jong span speel komende naweek in die Virsekerbeker-kwartfinaal teen Hoërskool Overkruin in ‘n wegwedstryd.



