Luiperds gereed om Boland op die Fanie aan te vat
Die senuwees het behoorlik verlede Vrydag in die Curriebeker Eersteligawedstryd tussen die Luiperds en SWD Arende gestyg toe die Luiperds in die doodsnikke ‘n 27-25 oorwinning behaal het. In die laaste 10 minute het die Luiperds en Arende gedurig die voorlopersposisie op die telbord gedeel, met die Luiperds wat danksy Gerhard Nortier se drie en …
Die senuwees het behoorlik verlede Vrydag in die Curriebeker Eersteligawedstryd tussen die Luiperds en SWD Arende gestyg toe die Luiperds in die doodsnikke ‘n 27-25 oorwinning behaal het.
In die laaste 10 minute het die Luiperds en Arende gedurig die voorlopersposisie op die telbord gedeel, met die Luiperds wat danksy Gerhard Nortier se drie en doelskop ‘n 24-22 voorsprong vasgehou het.
Die Arende se Divan Nel het toe met ‘n strafskop die tuisspan laat voorloop, voordat Nortier die geleentheid net ‘n minuut hierna gekry het om met ‘n strafskop van sy eie die Luiperds te laat voorloop en die held van die oomblik te wees.
Luiperds teen SWD Arende – Foto’s: Anton Gericke
Die Luiperds het ook daarin geslaag om drie keer oor die drielyn te kuier met Boela Venter, Nortier en Tapiwa Mafura wat hulle name op die telkaart geplaas het.
Hierdie wen weg van hulle tuisveld af was net die regte doepa vir die Luiperds, wat juis in die afgelope Supersport Uitdaagreeks vir oorwinnings gesukkel het.
Die Luiperds pak nou hierdie komende Vrydag, 31 Augustus, die Boland Kavaliers op die Fanie du Toit Sportgronde om 15:00 in ‘n klipharde wedstryd.
Boland lyk juis op goeie vorm nadat hulle OP met 70-12 afgeransel het en die Luiperds sal hulle beste skietgoed moet uithaal voor hulle tuisskare.
Volgens Luiperdsafrigter, Jonathan Mokuena het sy span teen die SWD Arende effens gesukkel met die vaste fasette en dit is juis iets waarop gewerk moet word.
“Daar is altyd iets waarop ‘n mens kan verbeter, al is ek bly oor die wen. Vir my het ouens soos Marius Stander (haker) en Boela Venter (flank) uitgestaan. Boela het sy ervaring as senior speler gewys,” het Mokuena gesê.
Luiperds teen Boland:
1) Matimu Manganyi
2) Marius Stander
3) Robert Hunt
4) Johan Retief
5) Jaco Swanepoel
6) Siya Mdaka
7) Boela Venter
8) Edward Haas
9) Chriswill September
10) Gerhard Nortier
11) Dean Stokes
12) AK Nela
13) Bradley Moolman
14) Jimmy Mpailane
15) Tapiwa Mafura
Plaasvervangers:
16) Chucky van der Westhuizen
17) Nelius Rademan
18) Danny du Plooy
19) Wandile Mazibuko
20) Eugene Hare
21) DP de Lange
22) Evardi Boshoff











