Luiperds wil kloue verskerp met oud-Bok Pretorius in afrigterstoel
Die Luiperds rugbyunie se droom om in die Curriebeker Premierliga te speel, is nou in die hande van hul splinternuwe hoofafrigter, André Pretorius. Met jare se ervaring as beroepspeler en stelselmatige opmars in afrigtingskringe, was dit net logies dat dié voormalige Springboklosskakel tot die posisie van Luiperds hoofafrigter sou vorder. Pretorius, wat vanjaar die aanvallende- …
Die Luiperds rugbyunie se droom om in die Curriebeker Premierliga te speel, is nou in die hande van hul splinternuwe hoofafrigter, André Pretorius. Met jare se ervaring as beroepspeler en stelselmatige opmars in afrigtingskringe, was dit net logies dat dié voormalige Springboklosskakel tot die posisie van Luiperds hoofafrigter sou vorder. Pretorius, wat vanjaar die aanvallende- en skopafrigter van die Luiperds en NWU se Varsitybekerspan was, vervang Jonathan Mokuena wat na drie seisoene die leisels as Luiperdsbreier oorgee.
“Dit is beslis tot my voordeel dat ek reeds vir die afgelope twee jaar ervaring in die Luiperds se strukture het. Ek moet vir Jonathan baie dankie sê dat hy my destyds betrek het. Ek is opgewonde oor die nuwe taak, maar weet ook dat dit nie maklik gaan wees nie,” noem Pretorius.
Pretorius gaan tesame met die nuwe hulpafrigter, Chaka Willemse, poog om die Luiperds weer ‘n huishoudelike naam in Potchefstroom te maak. Willemse is goed vertroud met plaaslike rugbystrukture en sy kennis sal Pretorius beslis baie help. “Ek is opgewonde oor die nuwe uitdaging en saam met Chaka sal ons die huidige groep spelers goed moet bestuur en ook bewus wees van die huidige finansiële situasie waarin die Luiperds hulself bevind. Die hoofdoel is om die Luiperds as handelsnaam weer sterk te maak en die Luiperds weer die Potchefstroom gemeenskap se span te maak. Daar moet ‘n konneksie wees tussen die Luiperds en die publiek,” sê Pretorius. Dit is ook nie altemit nie dat die Luiperds ook met aantreklike wenrugby die vertroue van die publiek sal terugwen. Dit is juis hierdie soort aanvallende rugby wat Pretorius na die tafel bring met sy afrigting. Tog glo Pretorius dat spelersverhoudings die belangrikste is, omdat dit die fondasie van ‘n suksesvolle span is. “Ek glo in menseverhoudings en dit is vir my belangrik dat die spelers verstaan waarom sekere strategieë werk en ander nie. As afrigter het ek nie al die antwoorde nie en ek glo ons het ‘n klomp hiper intelligente spelers wat dan juis tot hulle potensiaal speel omdat hulle daardie verstandhouding het.
“Elke speler is uniek en dit is belangrik vir my as afrigter om te weet waar die sterkpunte lê,” verduidelik Pretorius sy afrigtingsbenadering. Natuurlik het hy ook al verskeie mentors gehad as speler en tot vandag toe is Eugene “Loffie” Eloff die mentor wat hy die hoogste ag en respekteer. “By verre het Loffie die grootste impak op my gemaak en ek sal nog steeds vir hom raad vra en op sy knoppie druk.”
Pretorius het sy afrigtingsloopbaan in 2012 in Potchefstroom begin, waar hy as hoofafrigter van Potch Dorp, die Neserliga verower het. Daarna was hy in Frankryk by die US-Carcasonne-akademie as hulpafrigter betrokke. Pretorius het ook vir Patria Manskoshuis vanaf 2014 tot 2015 afgerig en toe sy provinsiale afrigtingservaring as Luiperds o.21 hoofafrigter opgebou.
“Elke liewe afrigtingsposisie help ‘n mens en leer jou nuwe dinge. ‘n Mens vat iets uit elke ervaring. In Frankryk het ek byvoorbeeld geleer hoe om goed met spelers te kommunikeer. Ek is gelukkig in die sin dat ek al by ‘n verskeidenheid afrigtingsituasies betrokke was,” sê hy.
Die Luiperds se nuwe afrigtingspan sal in April volgende jaar met reg die leisels vat wanneer die SuperSport Uitdaagreeks in volle stoom begin.




