Vuurwarm swemaksie by NW-kampioenskappe
Die Noordwes Swemkampioenskappe wat van 6 tot 9 Desember by die Potchefstroom Dam se Swembad plaasgevind het, was ‘n titaniese tweestryd in die ligblou water tussen die NWU Swemklub en die Potchefstroom Swemklub. Potchefstroom Swemklub het net-net met ‘n vingerbreedte hulle universiteit-teenstanders op die algehele punteleer geklop. Potch Swemklub eindig op 6 697 punte, met …

Die Noordwes Swemkampioenskappe wat van 6 tot 9 Desember by die Potchefstroom Dam se Swembad plaasgevind het, was ‘n titaniese tweestryd in die ligblou water tussen die NWU Swemklub en die Potchefstroom Swemklub.
Potchefstroom Swemklub het net-net met ‘n vingerbreedte hulle universiteit-teenstanders op die algehele punteleer geklop.
Potch Swemklub eindig op 6 697 punte, met die NWU wat met 6 669 punte eindig, ‘n skrale 28 punte agter hulle plaaslike teenstanders. Rustenburg Otters Swemklub beklee die derde plek met 6 376, 50 punte.
Potch Swemklub se damesswemmers was weer in top vorm en hulle beklee die eerste plek met 3 099 punte. In die mansafdeling vat die NWU weer die voortou met 3 274 punte.
Altesaam het 14 swemklubs aan hierdie spog gala-byeenkoms deelgeneem, maar die voorafgenoemde Potchefstroomse klubs het weer eens bewys dat die swemkrag van Noordwes in Potch lê.
Potchefstroom Swemklub se Chazél Orton het met 11 gouemedaljes en twee bronsmedaljes weer bewys watter uitstaande swemtalent sy is in die 12-13 jaar kategorie.
Die 16-jarige Bianca Opperman (Potch Swemklub) was oudergewoonte weer skitterend met agt eerste plekke, twee silwer en een bronsmedalje.
Nog uitblinkers tydens die byeenkoms by die dames was die NWU se Nadia Blaauw wat ses eerste plekke behaal het en haar talent weer op die groot verhoog bewys het.
Cornell Laubser (NWU) was ook van die perspette se konstante swemmers met ‘n puik eerste plek in die vroue 2000m vlinderslag-item.
By die mansafdelings was Potch Swemklub Ewald Bartleman (12-13) en Wian Bartleman (7-8) ook skitterend en albei het sewe eerste plekke behaal in verskeie items.
Ewald was veral puik in die seuns 200m individuele medley met ‘n tyd van 2:37.19.
Die NWU se Tiaan Rossouw het ook ses gouemedaljes ingesamel met die ervare Van Zyl Brand wat ook vier eerste plekke behaal het.

























