‘n Spesiale spiesgooivennootskap word beëindig
Die welbekende plaaslike spiesgooiafrigter, Terseus Liebenberg en sy ster Olimpiese spiesgooier, Sunette Viljoen se spesiale 16 jaar lange verbintenis het tot ‘n einde gekom. Viljoen het op Twitter die nuus bekend gemaak dat sy en Liebenberg op ’n baie goeie voet hulle vennootskap weens logistieke redes beëindig, aangesien sy tans vir die volgende twee jaar …
Die welbekende plaaslike spiesgooiafrigter, Terseus Liebenberg en sy ster Olimpiese spiesgooier, Sunette Viljoen se spesiale 16 jaar lange verbintenis het tot ‘n einde gekom.
Viljoen het op Twitter die nuus bekend gemaak dat sy en Liebenberg op ’n baie goeie voet hulle vennootskap weens logistieke redes beëindig, aangesien sy tans vir die volgende twee jaar by Tukkies in Pretoria gaan oefen.
“Ek het net die grootste respek, bewondering, en dankbaarheid vir hom (Liebenberg) vir alles wat hy vir my deur die loop van die jare gedoen het. Wat ‘n gentleman,” het Viljoen genoem.
Viljoen het onder Liebenberg se afrigting dit reggekry om aan vier agtereenvolgende Olimpiese Spele vanaf 2004-2016 deel te neem en in 2016 dit juis reggekry om met die silwermedalje in Rio weg te stap. Viljoen was ook die nommer twee vroue spiesgooier in die wêreld in 2012 en spog met ‘n beste afstand van 69.35 meter – die sesde beste in die wêreld.
“Dit was ‘n baie lang en spesiale reis saam met Sunette. Die hoogtepunt was natuurlik haar silwermedalje by die 2016 Olimpiese Spele in Rio, maar daar was ook verskeie ander hoogtepunte deur die loop van die jare. Sy is werklik merkwaardig en was ‘n wonderlike ambassadeur vir die NWU. Sy is een van die grootste sportlui wat Potchefstroom nog ooit opgelewer het.
“Ek wens haar alle sterkte en sukses toe,” het Liebenberg genoem.
Viljoen is tans besig om hard voor te berei vir die IAAF Wêreld Atletiekkampioenskap wat later vanjaar in Doha, Katar gaan plaasvind. Sy is ook vol hoop om aan haar vyfde agtereenvolgende Olimpiese Spele in Tokio, Japan in 2020 deel te neem.





