Van den Bergh skitter met eerste dubbele honderdtal vir Lions
Die talentvolle kaptein van die bizhub Highveld Lions en Potchefstroom se trots, Nicky van den Bergh, het die afgelope week teen die Titans met sy eerste dubbele honderdtal in 4-dag krieket bewys dat hy saam met die groot kanonne hoort. In hierdie wedstryd op Willowmorepark in Benoni het Van den Bergh se onorwonne 217 (227) …
Die talentvolle kaptein van die bizhub Highveld Lions en Potchefstroom se trots, Nicky van den Bergh, het die afgelope week teen die Titans met sy eerste dubbele honderdtal in 4-dag krieket bewys dat hy saam met die groot kanonne hoort.
In hierdie wedstryd op Willowmorepark in Benoni het Van den Bergh se onorwonne 217 (227) spoedig gekom en die Lions na ‘n massiewe oorwinning gelei. Volgens hierdie paaltjiewagter was dit tot op hede sy beste kolfbeurt in sy loopbaan.
“Ek het hierdie jaar ‘n punt daarvan gemaak om hard te werk en die span ook eerste te sit. Dit is beslis die beste beurt van my loopbaan oor die getal lopies, maar ook hoe dit tot ‘n groot oorwinning vir die Lions bygedra het. Dit gee ons net ‘n beter kans om die 4-dag titel te vat,” vertel Van den Bergh.
“Toe ek inkom om te kolf was ons in ‘n goeie posisie met Dominic Hendricks (197) wat reeds goed gekolf het. Ons het toe daarin geslaag om ‘n 390-lopie vennootskap aanmekaar te slaan wat sover die hoogste die seisoen is en ‘n rekord vir die vyfde paaltjie vir die Lions is. Dit is vir my baie spesiaal dat ek dit met Dominic kon deel. Die hoofdoel was om soveel lopies as moontlik te maak en vir die span ‘n voorsprong te gee,” noem Van den Bergh, wat vanjaar tans met ‘n kolfgemiddeld van 65.40 spog.
“Toe ek die eerste honderd in my beurt slaan was dit ‘n baie lekker gevoel gewees. Die belangrikste is om net aan te hou kolf en aan die gang te bly en jou telling te bou. As jy weer sien lê nog ‘n mylpaal voor jou,” noem hy.
Hierdie voormalige Potchefstroom Gimnasium- leerder, is ook ongelooflik trots op hoe van sy Noordwes Dragons-spanmaats ook vir die Lions doen hierdie seisoen.
“Jonty Rapulana en Wihan Lubbe speel regtig fantastiese krieket en hulle bewys hulself met elke wedstryd. ‘n Ou soos Bjorn Fortuin wat ek mee saam by die Dragons begin het, is ook nog ‘n goeie voorbeeld van hoe ons Noordwes krieketspelers presteer,” het hy bygevoeg.
Van den Bergh se doelwit is tans om seker te maak dat die Lions nader aan ‘n 4-dag titel beweeg. Die Lions is net een punt agter die Cape Cobras, met die volgende paar wedstryde wat die titel sal bepaal.
“Die fokus is om weer die Lions na ‘n lang, droë tydperk weer te laat titels wen. Persoonlik kan ek net soveel doen en ek sal in al drie formate ‘n groot bydrae wil bly lewer.”




