Om teikens van ‘n perd se rug af te skiet, sit nie in almal se broek nie, maar vir Hendriëtte Stroebel, ‘n graad 11-leerder van Hoër Volkskool Potchefstroom is dit iets wat sy al amper in haar slaap kan doen.
Stroebel, wat vir die Potch Perdryklub ry met die ervare Vicky van Zyl as haar afrigter, is besig om groot welslae in haar sport te behaal.
Stroebel het op 23 Februarie in die Polish Track-afdeling ‘n puik negende plek in ‘n internasionale kompetisie teen ander lande behaal om sodoende 9de in die wêreld geklassifiseer te word. Die lande wat teen mekaar gekompeteer het is die VSA, VK, Frankryk, Australië, Suid-Afrika en Denemarke.


In hierdie kompetisie wat oral oor die wêreld plaasvind, neem deelnemers teen mekaar puntegewys deel. Stroebel het haar kategorieë by die Potchefstroom Perdryklub voltooi.
“Elke tweede maand word daar kompetisies aangebied waar ons dan deelneem om geklassifiseer te word. Ons uitslae word dan verwerk en met die top deelnemers van al die lande vergelyk,” noem Stroebel.
Stroebel wat al vir vyf jaar by die Potchefstroom Perdryklub betrokke is en drie jaar boogskiet, het ‘n getal van 63 punte behaal op ‘n reeks verskillende bane. “Ons moet drie teikens langs mekaar raakskiet op ‘n perd wat nie altyd in ‘n reguit lyn hardloop nie, so ‘n mens moet mooi mik en die rigting bepaal. Die teikens word ook vanaf ‘n 7-9 meter afstand van die skietlyn geskiet op ‘n 90-100 meter baan. “‘n Mens weet nooit wat die perd kan doen nie,” voeg die kranige boogskutter by.



