
Twee dekades van karate dominansie is waaroor die NWU Karateklub kan spog nadat hulle vir die 20ste agtereenvolgende jaar die USSA-toernooi in Grahamstad gewen het.
Onder Sensei Johan van Tonder se leiding, het hy saam met sy span elke jaar vanaf 1999, USSA-sukses geproe.
Van Tonder is een van die land se mees gerespekteerde Sensei’s en met jare se ervaring agter sy rug, gekoppel met van die land se top karateka, loop die NWU se karatemasjien steeds vlot – al het die kompetisie met die jare myle verbeter.
“Ek is al as afrigter sedert 1986 betrokke, so ek stap al ‘n lang en suksesvolle pad saam. Toe die NWU by 10 in ‘n ry kom het ek al gedink dit is amper genoeg en nou trek ons al by 20. Tog word dit elke jaar moeiliker met die ander universiteite wat ook bewys wat hulle kan doen. Vanjaar was die Universiteit van Kaapstad ons grootste opponent,” noem Van Tonder.
Vir die NWU het die dames kata-span, mans kata-span, mans kumite en dames kumite-spanne eerste plekke verower. Brandon Shepherd, Carmen Cloete, Coenraad Berrange en Tanja Niemann behaal almal individuele eerste plekke. Shepherd behaal drie goue en een silwer medalje, Berrange en Niemann verkry drie goue medaljes.
“’n Mens weet nie of jy op die regte pad met jou afrigting en voorbereiding is, tot dit tyd vir die toernooi is nie.
Dit is verblydend dat al ons werk, vrugte afgewerp het,” sê Van Tonder.
Toppresteerders:
Brandon Shepherd: 3 goud 1 silwer
Coenraad Berrange: 3 goud
Michelle Botes: 1 goud 1 silwer
Esmari Rood: 2 goud
Tanja Niemann: 3 goud
Carmen Cloete: 2 goud
Lebogang Teme: 2 goud
Lereze Marais: 1 goud 1 silwer
Dian de Jongh: 1 goud 1 silwer
Charl van Loggerenberg: 1 goud 1 silwer
Ian Joynt: 1 silwer 1 brons
Finale Span Punte
1. NWU Potch: 46
2. UCT: 24
3. TUKS: 19
4. VUT: 15
5. Fort Hare: 10
6. NWU Mafiken:g 9
7. UFS (Freestate): 7
8. UKZN: 4
Rhodes: 4
9. WSU: 2
NMMU: 2



