Hope wilskrag, ‘n kanniedood-houding, ‘n God-gegewe talent vir hardloop en ‘n sterk kop is maar van die bestanddele in die plaaslike SA-atleet, Deanné Horn, se suksesresep.

Vir die gewone Potchefstromer op straat sal ‘n 100 kilometer ultra-marathon soos ‘n doodsvonnis voel, maar vir Deanné is dit ‘n geleentheid om die Here met haar hardlooptalente te eer. Verlede jaar het Deanné aan die 100km Wêreldkampioenskappe in Kroasië deelgeneem en in ‘n skaflike tyd van 8 ure en 18 minute klaargemaak. Wat hierdie prestasies nog meer verstommend maak, is dat Deanné klierkoors gehad het en met ‘n siek lyf nog steeds haar doelwit bereik het. Vanjaar gaan sy weer haar land verteenwoordig, dié keer by die 50km Wêreldkampioenskappe in Roemenië.
“Ons wil in die span-kategorie ‘n podium behaal vir Suid-Afrika. Dit is die doelwit, noem Deanné, wat die Comrades vanjaar in 07:01 met ‘n 12de plek voltooi het – dit nadat sy slegs 28 dae lank voor die marathon geoefen het.
Duidelik is daar iets anders en spesiaal aan hierdie biokinetikus – iets wat die Comrades-legende Nick Bester raakgesien het, toe hy haar in 2017 genooi het om in sy Nedbank Atletiekklub te hardloop. Deanne het met drie marathons in ses weke begin en toe van daar af het die hardloopkoors haar behoorlik getref.

“Vandat ek ‘n klein dogtertjie was wou ek Comrades doen, so toe omtrent so drie jaar terug het ek my eerste een in 8 ure en 10 minute voltooi het,” noem Deanné.
“Nick Bester het my gekontak en gesê dat my tye by die Comrades nie normaal is nie en dat ek vir sy Nedbank-klub moet kom hardloop. Ek het die jaar daarna in my tweede Comrades 15de geëindig,” noem sy.
Merkwaardig is dat Deanné vanjaar se Comrades Marathon met slegs 28 dae se oefening ’n verstommende 12de plek algeheel by die vroue behaal het. Oorspronklik was Deanné op skool ‘n 200m en 400m hekkiesatleet en het eers later langafstande begin doen. In haar eerste 21km-wedloop in Klerksdorp het sy die eerste plek behaal wat die oë laat rek het. Van daar af is dit net ‘n spoedige opwaartse kurwe vir dié uitstekende atleet wat nie “kannie” as ‘n opsie sien nie.
“Die meeste mense is te bang om marathons aan te pak, maar ek sê altyd as jy nie probeer nie, gaan jy nie weet nie. Moenie vir ander mense luister nie, jou eie opinie is belangriker. Jy ken jou eie lyf. Ek glo uit en uit in wonderwerke. As daar ‘n wil is kan jy. Die belangrikste ding is om te begin,” noem Deanné wat Nick Bester, se program volg om haar fiks en gereed vir wedlope te kry.
“Dit is vir my ‘n groot eer dat Nick my afrig. Ek het regtig gebid daarvoor en dit is fantasties dat ek by so ‘n legende kan leer. Ek het gedink sy tye is onmenslik moeilik, maar op die ou einde kon ek myself druk om die tye te behaal.
Ek hardloop nie vir persoonlike glorie en eerder omdat ek dit so baie geniet. Enige oefenmaat sal wel waardeer word,” sê Deanné laggend.



