Potchefstroom Volkskool se eerste krieketspan het te veel trefkrag vandag in hulle NW-liga kragmeting teen Potchefstroom Gimnasium met ‘n 146-lopie oorwinning vandag (Saterdag, 31 Augustus) op Gimmies se tuisveld.
Gimmies het die loot gewen en eerste geboul, maar al het hulle Volkies op 125/5 gehad, het ‘n terugvegpoging van Christopher de Freitas (73) en Lohard Jansen van Rensburg (68) Volkies na ‘n puik tellilng van 309/9 gestuur. Tiaan Brand was Gimmies se groot vonds met die bal en trek ses paaltjies plat vir syfers van 6/56.
Gimmies se kolwers kon nie die mas opkom nie en is almal vir 163 uitgeboul. Dit was net Frans Viviers me 56 wat enige daadwerklike weerstand gebied het. Vir Volkies was Van Zyl Smit (3/36) en Stefan Fourie (3/41) met hulle draaiballe, Gimmies se doodskoot.
Lees meer oor hierdie wedstryd in komende week (5 September) se Potchefstroom Herald.
Foto’s: Wouter Pienaar
Volkies se o.15A-span het ‘n senutergende 1 paaltjie oorwinning teen Gimmies se o.15A’s op Volkies se velde behaal. Gimmies is almal uit vir 239 voordat John van Wyk met ‘n voortreflike 60* die wenlopies op die nippertjie geslaan het om die wen vir Volkies deur te trek.
Foto’s: Chrisna Mentz: pixC photography















