Fantasties, noukeurig, aggressief en skouspelagtig is maar net ‘n paar woorde wat gebruik kan word om die NWU openingskolwer, Lourén Steenkamp, se puik 100* (63) teen die NMU-Madibaz vanmiddag op die Ibbies Oval te beskryf.
Foto’s: Barco Greeff/Asem Engage – Picture Café
Steenkamp se onoorwonne honderdtal wat 13 viere en 3 sesse ingesluit het, was die dryfveer in die NWU se 7 paaltjie oorwinning teen die Madibaz in vanmiddag se Varsitykrieket-kragmeting.
Die NWU moes 160 vir ‘n oorwinning aanteken nadat hulle die besoekers tot 159/5 beperk het. Die NWU het toe die teiken (161/3) behaal met 11 balle oor.
Foto’s: Wouter Pienaar
Dit was juis spesiaal dat Steenkamp se skoolmaat en oud-Gimmie, Ruan Haasbroek ook saam hom op die kolfblad was toe hy hierdie maalpyl bereik het. Steenkamp het ook goeie vennootskappe met kaptein, Lesego Senokwane (24 van 19 balle) en laastens saam met Haasbroek ( 8 van 9 balle) gemaak om die NWU se eerste wen van die 2019 toernooi te behaal.
Vroëer het Bantu Dandala (2/24) se puik boulwerk die NWU gehelp om die Madibaz te berperk nadat Tristan Stubbs ‘n goeie beurt van (81* van 59) gespeel het.
Die NWU speel hulle volgende wedstryd op Woensdag, 4 September teen UWC om 18:00 op Senwes Park.















