
Die naels word alreeds skerpgemaak en die pelse afgestof en blink gevryf voor komende Saterdag se Curriebekereindstryd tussen die Vrystaat Cheetahs en die Goue Leeus.
Die vraag is wie die hardste gaan brul in hierdie titaniese wedstryd? Gaan dit die Bloemfonteiners wees wat tot dusver met sjampanje rugby en ‘n spaneenheid hulle teenstanders kon klop, of gaan die Leeus wees wie se kannie dood houding en jong talent weer vir die eerste keer sedert 2015 die Curriebeker gaan lig?
Die Vrystaat Cheetahs se indrukwekkende tweede helfte vertoning teen die Sharks verlede naweek in Bloemfontein was een van die beste Curriebeker terugvegpogings in rugbykenners se kort termyn geheue. Die Cheetahs het bewys dat hulle gevaarlik is en dat hulle enige agterstand kan inhaal. Spelers soos die woelige haker, Joseph Dweba, slot, Walt Steenkamp en stut, Ox Nche, is van die manne wat vanjaar puik toernooie voorlangs vir die Vrystaters beleef. Agterlangs het Ruan Pienaar as ‘n ervare skrumskakel sy waarde bewys, met die senter, Benhard Janse van Rensburg wat ook ‘n puik seisoen agter die rug het. Jasper Wiese is ook ‘n vleuel wat met hart en siel sy alles vir die Cheetahs gee.
Vir die Leeus sal spelers soos Marvin Orie op slot en Marnus Schoeman (flank) die nodige ervaring en krag bied om ‘n aanslag te lewer. Die ervare skrumskakel, Ross Cronjé, kan ook ‘n beduidende verskil van agter die skrum maak en sy tweestryd met Pienaar sal dopgehou moet word. Die Leeus se Jacobie Adriaanse sal ook sy laaste Curriebekerwedstryd met ‘n soete oorwinning wil afsluit. Agterlangs sal die giftige Tyrone Green, Madosh Tambwe en Wandi Simelane nagmerries vir die Cheetahs kan veroorsaak.
Alles dui op ‘n tweestryd soos min en alle oë kan gerus vir 80 minute op hierdie Curriebeker-eindstryd gefokus word.



