Potchefstroom Gimnasium kan met reg trots wees op hul puik vertoning by die onlangse Super Interhoër-byeenkoms wat in Roodepoort by die Ruimsig-stadion plaasgevind het.
Gimmies het die tweede plek in die B-afdeling beklee waar hulle skole soos KHS, Nelspruit, Randburg, Marais Viljoen en ander geklop het. Dit was net Hoërskool Kempton Park wat hulle in dié afdeling kon onttroon.
Foto’s: Anton Geyser: South African Sports Images
Gimmies eindig op 687 punte met Kempies wat 706 aanteken en Randburg 661.
Die o.19-meisies 4 x100 meter aflosspan wat uit Miandi van Staden, Ruandi van Dyk, Mizelle Muller en Elmarie Naudé bestaan, het ’n briljante wedloop gehad en op gepaste wyse die laaste aflos van hul skoolloopbaan oortuigend gewen.
Ander skitterende atlete sluit in Phemelo Molale, Karmen Fouché, Jeanné Visser, Danielle Verster en Lourens Jacobs wat almal twee eerste plekke behaal het.
Sandri van Rooyen, Rico Leijenaar, Wihan van der Merwe, Adriaan van Wyk, Armand Willemse, Richter van der Merwe en Wiané Joubert het almal ook een gouemedalje behaal.