As jy ‘n paar jaar gelede vir mense gesê het dat sport videospeltjies as ‘n amptelike gerekende professionele sportsoort gesien kan word, sou hulle gesê het dat jy heeltemal te veel tyd met ‘n afstandbeheerder in jou hande sit.

Nou in 2020 is dit tans tydens die inperking en Covid-19 pandemie die enigste sportsoort wat beoefen word en die NWU se E-sports kaptein, Jacques Myburgh, is die beste voorbeeld van ‘n top plaaslike e-sports speler. Myburgh is aanhoudend besig om die kuns van die knoppies op sy Playstation-beheerder te bemeester en te verfyn – hy is nie die tipiese Vrydagaand en naweek-speler nie. Die student weet wat hy doen, veral as dit by die sokkerspeletjie FIFA, kom.
“Ek het ‘n groot vriendekring en een van my goeie vriende wat weet ek is mal oor FIFA, het vir my ‘n Facebook advertensie van die NWU aangestuur.
Daar was ek die geleentheid gebied om die NWU te verteenwoordig by die Universiteit Sport Suid Afrika (USSA) vir FIFA.
“Ek het die geleentheid met beide hande aangegryp en sodoende my plek in die e-sports FIFA span van die NWU ingespeel.”
Die NWU se e-sportspan, met Myburgh as kaptein, het ‘n algehele derde plek by die USSA e-sports kompetisie vir FIFA behaal, wat ‘n uitstekende prestasie is.
“Soos rugby, het e-sports vinnig vir my ‘n groot passie geword, daarom is dit vir my ‘n voorreg om die kaptein te wees van die NWU se E-sports span.
Die meeste mense sal dink ‘n e-sports span het nie ‘n kaptein nodig nie, maar daar is ‘n magdom spanwerk daaraan verbonde.
Die spanwerk-aspek benodig ‘n groep mense wat goed kan saamwerk en vinnig kan dink en die regte besluite kan neem.
Dit behels dat daar iemand nodig is wat leiding moet kan neem vir die span,” noem Myburgh wat ook ‘n uitstekende rugbyspeler was, voordat ‘n besering sy rugbykanse geknou het.
Myburgh onthou dat die kompetisie vir die hele span ongelooflik lekker was omdat dit heeltemal anders as ander sportsoorte is en die enigste besering wat hul teen moes waak, was blase op hulle duime.
Een van die humoristiese oomblikke wat ek die beste onthou is toe ons spanbestuurder en afrigter ons konstant herinner het om gereeld FIFA te speel, maar om nie ons duime te ooreis nie, omrede ons duime ons plek in die span verseker. Ons werk hard om vanjaar goud huis toe te bring,” vertel 2019 se bronsmedalje wenner.
Hierdie BSC IT student speel al vir jare FIFA en geniet nou die geleentheid om teen die land se bestes te speel.
Hy sal ook wil sien dat die sport verder uitbrei en eendag ‘n Olimpiese Sport word.
“Tot dusver is FIFA die grootste e-sports game en verreweg my gunsteling ook.
Ek is van kleins af ‘n groot liefhebber van sokker en ek ondersteun die Spaanse klub Real Madrid met ‘n groot passie.
Ek hoop wel om binnekort te sien dat USSA Call of Duty ook erken as ‘n amptelike Universiteit Sport, want dis reeds ‘n groot e-sport in ontwikkelde lande soos die VSA, Kanada en Brittanje.” “My grootste droom vir e-sports is dat dit ‘n Olimpiese Sport sal word.
Hopelik sal ek eendag die geleentheid kry om Suid-Afrika te verteenwoordig by die Olimpiese spele vir FIFA, of dalk eendag ‘n afrigter van die span te wees.”




