Die jaar 2008 was ‘n besondere jaar vir Potch Dorp Rugbyklub, wat sommer in een seisoen hulle plaaslike bure, Klerksdorp Rugbyklub, twee keer geklop het om die algehele oorwinning baie soeter te maak.
Die eerste ligastryd het Dorp 23-18 gewen, danksy ‘n puik vertoning van regtervleuel Jacques Klopper en buitersenter Tokkie Burger.
‘n Paar weke later het Potch Dorp hulself in ‘n eindstryd teen Klerksdorp goed van hulle taak gekwyt en die beker met ‘n 30-21 wen verseker.
Losskakel Jaco Coetzee was op sy stukke met ‘n uitstekende wedstryd, terwyl staatmakers soos skrumskakel Zeiler de Jager en slot Wayne Campbell ook uitstekend was, berig Piet de Jager in die 22 Augustus 2008 uitgawe van Potchefstroom Herald.
Die heelagter, Marvin Swartbooi se twee drieë het daardie aand ook ‘n groot rol in Dorp se oorwinning gespeel.




