‘n Droom het gister (Donderdag, 18 Februarie) in ‘n blink realiteit verander toe die bekende voormalige Gimmie, huidige Proteas en Warriors veelsydige speler, Marco Jansen, vir die Indiese Premierliga (IPL) span, Mumbai Indians, gekies is.
Sodoende is die 20-jarige Jansen die eerste Gimmie wat in die IPL gaan speel. Hy is ook slegs een van 10 Suid-Afrikaners wat in die 2021 IPL gaan speel.
Net Jansen en Chris Morris (vir ‘n IPL rekordbedrag van 16.5 crore (R32.7 miljoen) is in die veiling nuut gekoop. Interessant genoeg is albei Jansen en Morris twee voormalige Noordwes Dragons spelers ook.
By die jaarlikse IPL veiling kan spanne vir verskillende spelers bie wat hulle graag in hulle span vir die seisoen in diens wil neem. Die Mumbai Indians het die talentvolle jong Jansen vir 20 Lakhs (ongeveer R 400 000) gekoop. Jansen is nou deel van vanjaar se verdedigende IPL-kampioene, wat ook al die trofee ses keer verower het.
Jansen sal nou die goue geleentheid kry om saam die boulafrigter ne voormalige Nieu-Seelander, Shane Bond sowel as die bekende Sri Lanka legende en hoofafrigter, Mahela Jayawardene, te werk.
Die snelbouler wat in Klerksdorp grootgeword het, se afgelope twee maande was amper soos iets uit ‘n feeverhaal met sy insluiting in die Proteas toetsgroep na Pakistan sowel as sy insluiting in die grootste T20 krieketliga in die wêreld.
Daar was groot blydskap op sosiale media oor die voormalige Gimmies eerstespan kaptein se insluiting in die IPL, aangesien dit nog groter deure vir sy loopbaan vorentoe oopmaak. Hy sal ook in dieselfde geselskap as internasionale T20 sterre soos Rohit Sharma, Kieron Pollard, Hardik Pandya, Jasprit Bumrah, Trent Boult en sy Proteas spanmaat, Quinton de Kock, wees.
Zaheer Khan (voormalige Indiese linkerarm snelbouler) en Mumbai Indians se eienaar Akash Ambani het ook ‘n goeie woord oor Jansen na afloop van die veiling gehad (Kyk die video hieronder)
Marco se pa, Koos, noem dat harde werk, geloof en doelgerigheid om ‘n geleenthede aan te gryp ‘n groot rol gespeel het in Marco se sukses op ‘n jong ouderdom.
“Ek is ongelooflik trots op die man met die geleenthede wat hy gekry het. Dit gaan oor harde werk en genade van Bo. Die Here het vir hom deure oopgemaak en geleenthede gegee. Hy het sy geleenthede gebruik wat hy gekry het. Ek is baie opgewonde vir hierdie nuwe hoofstuk in sy lewe. Sy hele krieketloopbaan is soos ‘n sprokie, ek dink daar is min mense wat op sy ouderdom al die hoogtes bereik het en geleenthede gekry het wat die Here vir hom oopgemaak het,” vertel sy pa.

Sy voormalige afrigter by Gimmies, Wian Lubbe, was ook net so verheug en bly vir Marco wat hierdie groot mylpaal behaal het.
“God is so goed vir Marco! Hy verdien alles wat op sy pad kom. Sy nederige eienskappe maak die IPL span soveel mooier. Ek dink nie daar was al n tyd wat Marco in Potch was en nie kom groet het by die skool nie of net saam die seuns in die skool gepraat het nie. Die seuns kyk so baie op na hom en sy broer, Duan. Die nuus het soos ‘n veldbrand versprei onder ons seuns want hy is en sal altyd familie bly.
“Hy sit soveel ekstra werk in wat bitter min mense van weet. Marco en Duan het op skool na ‘n oefening partykeer tot 8 uur die aand nog balle geslaan en gewerk en dit het nie verander na skool nie.
Tydens lockdown en in sy aftyd sal hy altyd vra of is die skool oop sodat hy kan oefen. Alles wat sover op sy pad gekom het was deur harde werk. Hy kry nou die geleentheid om te leer by die beste spelers in die wêreld,” vertel Lubbe.



