SportSport

Hier is die hande wat Olënpark laat sprankel

Wat Mnanzana se werk so uitstaande maak, is die feit dat hy vir alles op die veld verantwoordelik is en alles alleen verrig – van die sny van die gras tot lyne verf.

Die grasgroenveld van Olënpark is reeds vir die afgelope 101 jaar die Luiperds se tuiste. Met soveel geskiedenis agter haar blad, het die stadion altyd ‘n hand nodig om alles in ‘n puik kondisie te hou. Die rede vir Olënpark se voortreflike kondisie die afgelope nege jaar is te danke aan die Luiperds se terreinbestuurder, Richard Mnanzana. Mnanzana glimlag breed wanneer hy vertel hoe hy elke week Olënpark se grasveld-baadjie so ‘n bietjie afstof.

“Ek werk nou al vir nege jaar hier by die Luiperds as terreinbestuurder en ek geniet my werk. Op Maandae sny ek die gras en voor wedstryde maak ek seker dat die veld mooi lyk. “Die lyne word geverf en die borde word voor elke wedstryd opgesit. Die werk is baie, maar ek maak seker dat ek bietjie vir bietjie werk, dan is dit nie so baie op een slag nie,” vertel die vriendelike man.

Wat Mnanzana se werk so uitstaande maak, is die feit dat hy vir alles op die veld verantwoordelik is en alles alleen verrig – van die sny van die gras tot lyne verf. Voor wedstryde word daar werkers gereël wat help om die stadion ook skoon te maak en daarmee te help sodat alles foutloos is voor ‘n groot wedstryd.

“Eugene Fourie (die Luiperds se hoof uitvoerende beampte) is my inspirasie. “Hy sê vroegtydig vir my wanneer daar wedstryde is sodat die werk my nie druk nie. Wat my motiveer is dat ek werk toe gaan en geld maak om vir my kinders en vrou te sorg. ‘n Man raak moeg, maar dit gee my genoeg krag vir elke dag,” sê hy.

“Op ‘n gewone wedstryddag sny ek die Saterdag om 07:00 die gras as ek ingaan na Olënpark. Ek meng dan verf en begin lyne merk. Dit vat my gewoonlik so twee tot twee en ‘n half ure om die lyne te merk,” noem hy. Volgens Mnanzana moet hy ook die gras op verskillende lengtes sny vir wanneer daar rugby of sokker gespeel word.

“As ‘n sokkerwedstryd op ‘n Vrydagaand gespeel word, moet die gras baie korter gesny word as vir rugby. As ‘n rugbywedstryd Saterdag plaasvind, dan moet ek die lyne oorverf omdat sokker en rugby se lyne ook verskil,” verduidelik hy. Mnanzana is trots op sy werk omdat hy weet dat hy dit goed doen – daar is nie klagtes nie omdat hy altyd op sy pos is. Geen taak is vir Mnanzana te groot nie.

“Die lekkerste ding om by die Luiperds te werk, is omdat almal saamwerk. “Ek het nie stres dat ek goed alleen hoef te doen nie en dat mense nie tevrede is met my werk nie. Ons almal werk en lag saam. Dit is ‘n familie.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button