SportSport

NWU muurbalspeler het groot drome vir die toekoms

Van Niekerk, wat tans derde op die ranglys in Suid-Afrika vir muurbal onder mans is, is eerste gekeur vir die toernooi en het sy reputasie geen skade met ‘n goeie oorwinning gedoen nie.

Die nuwe jaar het vir een van die Noordwes-Universiteit se top muurbalspelers, Dewald van Niekerk, op ‘n hoogtepunt begin toe hy die eerste Professional Squash Association (PSA) toernooi van die jaar gewen het.

Die toernooi word die Northerns PSA Satellite genoem en het vanaf 5-7 Februarie in Pretoria plaasgevind. Van Niekerk, wat tans derde op die ranglys in Suid-Afrika vir muurbal onder mans is, is eerste gekeur vir die toernooi en het sy reputasie geen skade met ‘n goeie oorwinning gedoen nie.

Van Niekerk klop vir Sandile Masondo (16) 11-1, 11-4, 11-2, oorwin Emmanuel Musefwe (15) 11-6, 11-9, 11-7 en wen teen Sipho Ncube (3) 11-5, 11-8, 11-4. Hy klop Andrew Martin (2) in die finaal met 11-4, 11-7, 11-1. Muurbal is deel van Van Niekerk se lewe sedert hy as jong kind vir die eerste keer ‘n muurbalraket vasgehou het.

“Muurbal het by my pa begin. Hy het vir ‘n paar jaar gespeel en het die sport aan my hele familie blootgestel,” vertel Van Niekerk wat op skolevlak by Hoërskool Framesby naam gemaak het.

“My tyd as ‘n skolespeler was baie opwindend en daar was baie geleenthede vir ons as jong spelers. As ‘n skolespeler leer jy baie vinnig en jy groei vinnig. Die afrigters waaraan ek blootgestel was, het my baie gehelp en hulle is ook ‘n baie groot rede waarom ek is wie ek is vandag. Angela Difford was my afrigter op laerskool, van hoërskool af het my broer ons tydelik afgerig en toe het Terry Dowling by hom oorgevat,” vertel hy.

Dewald van Niekerk met een van die vele trofees wat hy al verower het.

Op universiteitsvlak het die bekende muurbalspelers, Christo Potgieter (SA muurbalkampioen), Jimmy Schlebusch (NWU muurbalafrigter) sowel as JP Britz sy spel verder gevorm. “Muurbal is vir my baie bevredigend. Dit bied ook die geleentheid om baie mense te ontmoet. Die mense saam met wie jy jouself in die muurbal-omgewing plaas, het ook ‘n groot impak op hoe jy muurbal gaan ervaar. Muurbalspelers moet baie hard werk en bereid wees om die ekstra werk in te sit. “Dit is belangrik om positief te wees en om in jouself te glo,” meen Van Niekerk.

Van Niekerk het al talle titels op muurbalbane verower en ook Suid-Afrika op o.19 vlak verteenwoordig. Hy het aan die o.19 Wêreld Junior Muurbalkampioenskappe in Nederland deelgeneem, sowel as die Wêreld Universiteite Kampioenskappe in Birmingham, Engeland vir die SA Universiteite-span. Titels op sy kerfstok sluit in die Growthpoint Interprovinsiale toernooi saam met SA Platteland, sowel as drie PSA titels. In die nabye toekoms is sy visier op die SA mans muurbalspan ingestel.

“Ek wil deel vorm van dié muurbalspan wat aan die wêreldkampioenskappe gaan deelneem. Ek wil ook muurbal in SA bevorder en my ervaring en kennis aan jonger spelers oordra.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button