Noordwes Rolbal het die afgelope paar weke hul jaarlikse distriksliga aangebied met van die jong talent wat hul hande hoog opgesteek het. In die finale uitspeelrondtes vir die Dames Eersteliga wat op 20 Februarie gehou is, het Potchefstroom Buiteklub (PCC), Potchefstroom Dorp en Fochville klubs mekaar die stryd aangesê. Uiteindelik was dit PCC wat goud behaal het met ‘n telling van 25,5 punte, terwyl Potchefstroom Dorp in ‘n baie naby tweede plek met 23 punte geëindig het.

Die jong dames van PCC het hulle klub trots verteenwoordig. Bronwen de Kock (30), Claudia Victor (20) en Lezandri Hildebrand (15) was voorheen gekies om die Noordwes-distrik in Rolbal Suid-Afrika se onderskeie o.20 en o.30 toernooie te verteenwoordig.
Verder was Bronwen ook deel van die Noordwes damesspanne wat in die Interdistrikte toernooie van die organisasie deelgeneem het. Lorette van der Linde (52) het eers onlangs by die klub aangesluit en het maar ‘n paar maande se ondervinding onder die belt.
Sy het egter nie teruggestaan vir hul opponente nie en het haar plek in die span volgestaan. Met hul wen kwalifiseer hulle reeds op hierdie jong ouderdom vir die top vlak van die NW liga om volgende jaar in die Premier liga te gaan deelneem. Hierdie dames moet beslis dopgehou word in die toekoms.
So ook het die PCC mans en dames Premier liga-spanne goed presteer in hul onderskeie afdelings. Die dames, Riekie Broodryk, Sega Mokoto, Helena Koekemoer en Baybee Mojanaga het ‘n welverdiende tweede plek behaal. Die mans, Theuns Botha, Gert Putters, Dirk Coetzee en Johann Delport het daarin geslaag om hul plek te behou in die Premier liga deur vierde te eindig.




