In Righardt Joubert se oë is daar ‘n intense tog vriendelike kyk wanneer daar oor sy atletiekprestasies en toekomsplanne gesels word.
Righardt is een van Laerskool Mooirivier se top hekkies- en kortafstand-atlete wat vanjaar soos ‘n weerligstraal op die atletiekbaan sy merk maak.
Hierdie atleet het onder die afrigting van Werner Burger vir die afgelope paar jaar die stof in sy opponente se oë gehardloop. Nou kyk Righardt vorentoe na nog goue medaljes om op sy kerfstok te sit.
“Coach Werner is regtig ‘n wonderlike afrigter en hy help my baie om my tegniek te verbeter en is altyd daar vir my. “My selfvertroue is op ‘n baie goeie plek,” vertel Righardt wat al sedert 5-jarige ouderdom begin hardloop het en afrigting vanaf 8-jarige ouderdom ontvang het.

Righardt se gunsteling item is hekkies, gevolg deur 100 meter naellope en verspring. In die 80m hekkies is sy beste tyd 11.31 sekondes, en in die 100 meter is dit tans 11.9 sekondes. Hy spog ook met ‘n verspring persoonlike beste van 5.29 meter.

Buiten atletiek speel hy ook rugby en krieket vir sy skool. “Ek doen nie iets halfpad nie en gaan altyd voluit. “Ek het genoeg motivering en dissipline om ‘n sukses van atletiek te maak,” vertel die talentvolle atleet.
Sy korttermyn mikpunt is om goud by die SA’s te wen en ook oor ‘n paar jaar na die Afrika Spele te gaan. Dié 13-jarige se groot droom is natuurlik om Olimpiese Spele toe te gaan.
“Ek glo ek sal eendag aan die Olimpiese Spele kan deelneem. Dit is dalk nog ‘n ent ver, maar as ‘n mens nie groot droom nie, dan gaan mens nie groot goed bereik nie.”




