Potchefstroom Dorp Rugbyklub is een stap nader aan die Neserliga-titel nadat hulle die semi-finaal weg teen Zeerust met 46-12 gewen het. Sodoende gaan Potch Dorp weer teen hulle bure, Ikageng, te staan kom, nes in die poelwedstryd – die keer vir baie meer as net ligapunte.
Potch Dorp het hulle vorige kragmeting met 50-32 gewen en sal weer aan die wenkant wil eindig. Albei spanne sal slaggereed wees vir die eindstryd wat Saterdag, 19 Junie op Olenpark sal plaasvind en beloof om ‘n aanskoulike stryd tussen twee plaaslike spanne te wees.
Potch Dorp het teen Zeerust, wat tot op datum nog onoorwonne was, gewys wat in hulle steek met ‘n stormloop in die eerste helfte waar die drieë behoorlik gereën het.
Al was Zeerust gedissiplineerd en het net vier strafskoppe afgestaan in ‘n klipharde kragmeting, was Dorp steeds klinies met hulle balbesit en het 5 van hul 6 drieë in die eerste 40 minute gedruk.
Die twee groot uitblinkers vir Dorp was die skakelpaar, Danie van der Merwe en Luan Murray, wat die hele wedstryd beheer het en geen vastrapplek vir Zeerust gegee het nie.
Murray is ook as die man van die wedstryd aangewys wat 21 punte aangeteken het. Hy het 5 doelskoppe, twee strafskoppe e nook een puik drie ingepalm na ‘n goeie breekslag.
Die vleuels, Nico Maartens (2) en Victer Vlok, sowel as senter Ricus van Zyl en heelagter, Llewellyn Ellis druk ook vir Potch Dorp.
Al het Zeerust goed teruggeveg in die tweede helfte kom hul net twee drieë druk.
Potch Dorp bedank ook Zeerust vir hulle gasvryheid en hoflikheid waarmee hulle die half-eindstryd aangebied het.




