Die Luiperds se oortuigende 50-29 oorwinning teen die Oostelike Provinsie in hulle eerste Curriebeker Eersteliga kragmeting vanjaar is tekenend van die struktuur en kultuur in die span.
Al het die Luiperds weens Covid-19 nie regtig enige oefenwedstryde gehad nie, het hulle die eerste wedstryd teen OP met albei hande aangegryp en oortuigend gespeel. André Pretorius se span het op die Isaac Wolfson-stadion in Gqeberha (PE) hulle tande in hulle opponent ingesink en nooit die greep laat gaan nie.
Teen die OP het nuwe haker, Robey Leibrandt, het ‘n driekuns ingepalm met André Fouché (2), Duren Hoffman en Heinz Bertram wat ook oorgeduik het.
Pretorius noem juis dat hy tevrede was met die werksverrigting tydens die 80 minute, asook die kalmte waarmee sy span moeilike situasies aangepak het. 
“Ons was vroeg in die eerste helfte 7-0 agter. Die senior spelers het opgestaan en hulle kant gebring en kort voor lank het ons beheer geneem. Hierdie seisoen wil ek hê dat die sisteme in plek is en dat daar ‘n kultuur geskep word waar spelers vir mekaar speel. Daar moet ‘n samehorigheid wees,” beaam hy.
Pretorius is juis baie dankbaar vir die werk wat Gerald McPherson, Eric Herbert en Garann Kriek, met die Luiperdsgroep gedoen het, terwyl Pretorius die NWU Varsitybekergroep gebrei het.
“Hulle het ontsaglike goeie werk gedoen met die spelers en dit maak dit baie makliker wanneer die NWU se Varsitybekerspelers in die Luipersgroep inkom. Ek sal graag wil sien hoe die span ‘n hegter eenheid raak met die Luiperds se seniorspelers wat die jonger manne in die kultuur laat inkoop,” noem hy.
Vir Pretorius is dit ook belangrik dat sy span die Luiperdstrui met trots aantrek en weet dat baie top legendes al in die groen en rooi trui naam gemaak het.
“Met meer as 100 jaar se geskiedenis is dit belangrik dat hulle speel vir almal wat al die Luiperds verteenwoordig het. Al die ondersteuning van oud-spelers en die breë gemeenskap is vir ons ook baie waardevol,” noem Pretorius.




