SportSport

NWU klits spiesgooi-room

‘n Ander konstante is die NWU se spiesgooi-guru, Tersues Liebenberg, en hoewel die atlete langs hom op die baan verander, het hulle uitnemende prestasies in gemeen.

Dit is ‘n bekende gesig daar waar die Mooirivier om die Fanie du Toit-sportterrein konkel. Net onder die Hoëprestasieinstituut is daar sowat ʼn 100m wat as ʼn gevaarvliegsone vir ons geveerde broers moet dien. Spiese vlieg hier.

‘n Ander konstante is die NWU se spiesgooi-guru, Terseus Liebenberg, en hoewel die atlete langs hom op die baan verander, het hulle uitnemende prestasies in gemeen.  Jo-Ané van Dyk se onlangse toevoeging tot die Suid-Afrikaanse span wat van 23 Julie tot 8 Augustus in Tokio, Japan aan die Olimpiese Spele gaan deelneem, beteken dat sy die vierde NWU-spiesgooier wie dié eer toeval.

Terseus Liebenberg staan trots saam met kampioen spiesgooier, Jo-Ané van Dyk. Foto: Facebook.

Van Dyk volg in die voetspore van Sunette Viljoen, Justine Robbeson en Hardus Pienaar. Dan moet mens ook nie versuim om na Marius Corbett te kyk nie. Corbett het in die 1990s ʼn nalatenskap soos min uitgekerf. Al hierdie atlete kom uit NWU voorraad en het Liebenberg afrigter geroep.

Terseus Liebenberg, die beroemde spiesgooiafrigter gaan in Augustus by sy derde Olimpiese Spele betrokke wees,
Terseus Liebenberg, die beroemde spiesgooiafrigter.

Oor sy nuutste Olimpiese-fonds kan dié gesiene afrigter nie uitgepraat raak nie: “Sy is ʼn juweel. Wat ʼn voorreg om met so ʼn atleet te kan werk. Sy is ʼn kampioen spiesgooier en ʼn kampioen van die lewe.”

Die groeistof is sy kennis, die teelaarde is die NWU, maar wat is die geheim agter die universiteit se immergroen spiesgooisukses?

“Harde werk,” sê hy sonder om te huiwer. “Sterk bome groei stadig. Dit vat tyd om groei-volwassenheid te bereik. Jy moet glo in jou doelwitte en met geduld daarna toe werk. Dis juis dié rede wat Van Dyk (23) se opkoms so verstommend maak. “Sy is nou maar eers in die begin van haar loopbaan. ʼn Wonderlike wêreld van voortreflikheid wag vir haar.” Oor Sunette Viljoen is al genoeg geskryf om ʼn inkvis jaloers te maak. Silwer by die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro 2016, ʼn vierde plek by Londen 2012. Tweemalige Statebondspelekampioen.

Vyf keer Afrika se kampioen. By haar lys mens nie elke byeenkoms, elke brons of silwer nie. Jy kan ʼn leser se aandag ook net so lank hou. Hoewel Viljoen se tydsgenoot, Justine Robbeson, in die skadu van ʼn kolossus geloop het, het sy gereeld ook die son gevind. Sy was Afrikakampioen in 2006 en het twee keer koning by All-Africa-kampioenskappe gekraai.

In 2008 was haar naam langs die Afrikarekord geskryf voor Viljoen dit ʼn jaar later weggeraap het. Hier is ʼn hartseer storie: “By die Spele in Londen was Justine vir drie dae lank platgetrek met griep. Ek was saam met haar in die stadion tydens die kwalifisering vir die eindrondte toe sy vir my sê dat sy sukkel om asem te haal. Sy het die kwalifiseringsafstand met ʼn paar sentimeter gemis.”

Robbeson het dertiende geëindig, die eerste twaalf gaan deur. Die dorp Bambous staar uit oor die Indiese Oseaan vanaf staanplek Mauritius tot oor die westehorison Madagaskar se kant toe. Dit is hier waar Hardus Pienaar vir die derde keer in 2006 die Afrikakampioenskap ingepalm het. ʼn Wêreld Juniorkampioenskap asook ʼn eindelose rits pragprestasies het van Pienaar, ʼn boorling van Rustenburg, ʼn ster gemaak. Olimpiese glorie was hom egter nie beskore nie en by die 2004 Spele in Atene het hy veertiende geëindig. Corbett is die spreekwoordelike peetpa van die nuwe millennium se sterre. Daarbenewens was doodeenvoudig ʼn yster.

In 1994 as ʼn eerstejaarstudent by Veritas-manskoshuis wen hy die Junior Wêreldkampioenskap in Portugal, hy het die SA 0.20-rekord by drie geleenthede verbeter en in 1997 word hy Suid-Afrika se eerste baan-en-veld-wêreldkampioen in Griekeland met ʼn nuwe SA-rekord van 88.40m.

Hy het die Wêreldstudentespele-titel gewen en die Statebondspele in 1998 in Maleisië. Sy gooi dóér in Kuala Lumpur op 21 September het 88.75m gemeet en staan steeds. Nadat hy sy spies neergelê het, het hy die rugbybal opgetel en vir die Luiperds in die Eersteliga van die Curriebeker uitgedraf. Liebenberg het self gaan kyk hoe Corbett teenstanders op Olënpark laat stof proe het: “Hy was ʼn woeste speler!”

Hierdie is maar ʼn handvol van tientalle uitblinkers. Lank mag die sterk bome groei.  

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button