Rugby is onlosmaaklik deel van die Luiperds se uitblinker losvoorspeler en onderkaptein, André Fouché.
Dit kan ‘n mens agterkom met die passie waarmee hy elke 80 minute speel – altyd ‘n glimlag op sy gesig, veral nadat hy ‘n drie gedruk het of sy opponent laat grond proe het.

Dié glimlag kan ook maklik in ‘n doelgerigte en ernstige uitdrukking verander, veral as hierdie flank of agtsteman homself in ‘n harde stryd op die veld bevind. Dit was juis die afgelope naweek teen die Griffons so ‘n stryd toe hy die manne in pers saam met sy Luiperds spanmaats laat les opsê het.
Fouché se rugbyreis begin heel toepaslik in Welkom waar hy gebore is, en as jong seun saam met sy broer langs die rugbyveld van Rovers Rugbyklub grootgeword het, waar sy pa, André ook afgerig het.
Nou is hy een van die NWU se top spelers met ‘n paar seisoene se Varsitybeker-ervaring saam die NWU sowel as sewe wedstryde vir die Luiperds agter sy naam. Die Noordwes Provinsie is waar hy die eerste sade as laerskoolkind by Laerskool Vastrap geplant het. Dit is hier waar hy werklik sy eerste vastrapplek in rugby vind. “Vanaf graad 5 tot 8 was ek in Laerskool Randfontein en toe in Hoërskool Riebeekrand in my graad 8 jaar. My afrigter, Rickus Kruger het my liefde vir rugby verder stimuleer. Vanaf graad 9 -12 was ek in Hoërskool Rustenburg en dit is hier waar dinge vir my gebeur het. Coach Bertie Grobbelaar het die grootste invloed op my gehad waar ek besef het ek wil ‘n loopbaan van rugby maak. Die professionele manier waarop hy met my gewerk het en voorberei het vir groot rugby het ‘n enorme impak op my loopbaan gehad,” vertel Fouché.

Nog ‘n man na aan sy hart wat ‘n groot impak in sy lewe het is sy ondersteunende pa, wat gereeld op sosiale media berigte en inligting deel. Sy ma Adele, is ook ‘n kranige fotograaf wat gereeld haar seun in aksie vasvang.

“My grootste mentor is my pa. My ouers staan nog altyd bankvas agter my en bied nie net motivering nie, maar gee ook die nodige kritiek wat ek nodig het om te verbeter,” noem Fouché.
Sy verbintenis met die Luiperdstrui kan ook tot sy o.16 jaar terug getrek word waar hy as jong seun ‘n paar top vertonings by die 2015 o.16 Grant Khomo-week in Oudtshoorn gelewer het. Dit was net ‘n kwessie van tyd voordat hy op ‘n hoër vlak ook sy staal wys – as jy goed genoeg is, is jy oud genoeg. Op 19 maak hy sy senior debuut vir die Luiperds teen die Valke in Rustenburg en soos gewoonlik gryp hy sy kans met albei hande aan.
“Dit was vir my baie spesiaal om in my tuisdorp (Rustenburg) my eerste wedstryd te kon speel. Om ‘n drie in die wedstryd in die hoek voor my gesin te kon druk was die kersie op die koek.”
Fouché is een van die hardste werkers in sy span, met ‘n gretigheid om elke week ‘n beter speler te wees as voorheen. Sy energie is aansteeklik en soms onophoudelik as ‘n mens na sy werksverrigting kyk. Hy weet ook dat hy niks alleen kan vermag nie en kyk natuurlik op na sy afrigters by die Luiperds wat die vertroue in hom het om sy beste te lewer elke keer wanneer hy die historiese Luiperdstrui oor sy kop trek.
“Ek het die voorreg om al van my eerstejaar af deur Coach Chaka (Willemse) afgerig te word. Hy het ‘n fenomenale manier om met mens te werk en hy het my gehelp om my swakhede in hierdie vier jaar my sterkpunte te maak en my goeie vaardighede net nog beter gemaak. Hy leer my ook lewensvaardighede,” meen Fouché.

“Ek en Coach André (Pretorius) het ‘n baie oop verhouding en hy is ‘n fantastiese afrigter waarna ek so baie opkyk. Hy help my ongelooflik baie om te werk aan my leierskapvaardighede en natuurlik my lyne wat ek hardloop op die veld en waar om ‘n gat raak te sien. Coach Jean (Tiedt) het ook ‘n baie groot rol gespeel in my verdedigingsvaardighede en ek gaan nog elke jaar net van krag tot krag,” beaam Fouché.
Hierdie ywerige flank en agtsteman geniet ook die vriendskappe in die Luiperdsgroep waar jonk en oud elkeen iets spesiaal na die spreekwoordelike rugbyspyskaart bring.
“Die beste aspek daarvan is die vriendskappe wat ek hier maak en die feit dat ek saam met manne kan speel wat soveel ouer as ek is en hulle kennis aan ons jonger manne oordra. Dit is besonders hoe die ouer manne ons onder hulle vlerk neem en help vorm in beter rugbyspelers en manne,” vertel hy.
Op die veld lê hy graag klem op sy klipharde verdediging sowel as sy gawe om oor die voordeellyn te gaan en sake so moeilik as moontlik vir sy teenstanders te maak.
“Ek geniet dit baie om ‘n goeie duikslag of ses uit te kan voer en ook om met die bal oor die voordeellyn te gaan. Ek verbeter elke week aan my voetwerk en geniet dit om nuwe vaardighede aan te leer,” sê Fouché, wie se gunstelingstadion, Loftus Versfeld is.

Van die veld af geniet Fouché dit om in die natuur te wees en ‘n gholfstok te swaai. Hy sal ook nie nee sê vir ‘n lekker T-been en chips nie. Fouché is ook duidelik ‘n man met groot ambisie en spesifiek Springbok-drome wat hy in realiteit wil verander.
“My doelwitte vir die volgende vyf jaar sal wees om my nagraadse studie te voltooi en ‘n kontrak oop te speel by een van die groot unies in die land. Dan ook my kinderdroom wat ek glo ek binne die volgende vyf jaar kan bereik, is om die voorreg te kry om die groen en goud oor my kop te trek.” 



