Die Luiperds het danksy ‘n terugvegpoging in die laaste 20 minute die Boland Kavaliers met 29-23 in Wellington vanmiddag (Saterdag, 24 Julie) geklop.
Drieë van die flank, André Fouché en die vleuel, Lincoln Daniels, het die kastaaiings uit die vuur vir die Potchefstromers na ‘n moeilike eerste helfte gekrap. Boland was halftyd 17-5 voor maar ‘n kanniedoodhouding het die Luiperds in hierdie Curriebeker Eersteliga wedstryd deurgetrek.
Boland het die eerste punte van die wedstryd in die 20ste minuut behaal met ‘n drie na volgehoue druk. Die Luiperds het slegs drie minute daarna hulle stempel afgedruk toe die losskakel, Danrich Visagie oor is vir die besoekers se eerste drie.
Visagie kon wel nie sy eie drie verdoel nie en die telling was 5-5 met ongeveer 15 minute se speeltyd oor in die eerste helfte. Boland het weer teruggeslaan met die vleuel, Dylan Maart, wat na ‘n puik skoppie ‘n goeie individuele drie gaan druk het.
Die Luiperds sal wel kopkrap oor hulle verdediging wat veel te wense oorgelaat het. Die telling was nou 12-5 in Boland se guns en na Taigh Schoor se drie net voor halftyd, was die Boland met 17-5 voor.
Die Luiperds moes ‘n verbeterde tweede helfte vertoning insit as hulle iets uit die wedstryd wou kry en dit is presies wat in die volgende 40 minute gebeur het.
Die slot, Vincent Maruping, het die spel goed gelees en ‘n fout in Boland se lynstaan goed uitgebuit om te gaan druk en die gaping na slegs sewe punte te bring.

John Lourens se strafskop het Boland weer ‘n 10 punt voorsprong gegee, maar die Luiperds was nog lank nie klaar in Wellington nie. Die plaasvervanger vleuel, Charl Pretorius, het na ‘n puik breek die bal vir die skrumskakel, Shirwin Cupido aangegee en die blitsige nommer 9 is oor om die gaping na slegs drie punte te vernou.
Boland het ook aanhou druk in die Luiperds se 22 gebied, maar die Potchefstromers se verdediging was sterk genoeg om die aanslae te keer. Die Luiperds het die druk soos ‘n spons absorbeer en toe die wind uit die Kavaliers se seile geblaas met twee laat driee.
Eers het André Fouché oorgedryf na ‘n kenmerkende rolmaalbeweging vanaf ‘n lynstaan. Met slegs twee minute speeltyd oor het regtervleuel, Lincoln Daniels die wen met ‘n drie in die hoekie beklink. Dit was weereens ‘n rolmaalbeweging wat die fondasie vir hierdie drie gebou het.
Die Luiperds is nou op 21 punte na hulle tweede bonuspuntoorwinning in ‘n ry.



