Boeke kan geskryf word oor Boet Hurn se rol in die lewens van duisende kinders op die skoolterrein en natuurlik die sportvelde van Laerskool Baillie Park. “Legendaries”, “spesiaal”, “hardwerkend” en “waardevol” is maar van die woorde wat voormalige spelers opnoem as hulle aan die nou 73-jarige Boet Hurn dink.
Hy is steeds doenig by Baillie Park – gewoonlik met ‘n sonhoed op sy donkerbruin hare en ‘n krieketbal in die hand. Sy 50 jaar nalatenskap in die onderwys is van onskatbare waarde met talle spelers wat op die krieketvelde, rugbyvelde en tennisbane deur sy hande is.
Die lys van spelers wat hy deur die jare afgerig het, is legio. Talentvolle krieketspelers soos Louis Vorster, Dirkie de Vos, Arno Jacobs, Stefan Jacobs, Heinrich Strydom, Davy Jacobs, Nicky van den Bergh, Dwaine Pretorius, Lourén Steenkamp en natuurlik die Springbok skrumskakel, Robert du Preez.

“Dit bly vir my spesiaal dat ek ‘n invloed op soveel talentvolle kinders kon hê en om te sien hoe hulle in die lewe vorder. Ek wil ook dankie sê vir kollegas in die onderwys saam met wie ek ‘n lang pad stap. Wyle Frik Kirsten, oud-hoof van Baillie Park was ook ‘n groot mentor, sowel as Leon de Beer, die hoof wat hom opgevolg het en die huidige hoof, Piet Müller,” noem Hurn.

Daar moes die afgelope 37 jaar al miljoene krieketballe in die nette van Baillie Park gegooi word – generasies Baillies almal onder leiding van dié diensbare man met die sonhoed.
“Ek het vir Potch Dorp krieket gespeel, maar ek het myself nooit as ‘n groot krieketspeler gesien nie. Ek was eintlik ‘n rugbyspeler en het in die 70’s vir Wes-Transvaal vleuel gespeel. Na ‘n rugbybesering het ek toe op krieket gefokus en om die kinders op laerskool te leer,” noem Hurn, wat as jong man ook tennis (Park Tennisklub) en gholf gespeel het.
Wysheid en ‘n eerlike nederigheid stroom uit hierdie man wat Baillie Park se krieketspanne deur die jare na groot hoogtes en talle titels met sy afrigting, kennis van die spel en kanniedood-houding gelei het. Hurn wys spesifiek na ‘n aandenking wat ouers vir hom in 1998 gegee het.

“Op die agterkant staan ‘Never Give Up” en dit is iets wat ek altyd vir my spanne noem. Mens gee nie op nie. Ek kyk ook met groot vreugde na die Orde van die Draak toekennings by Noordwes Krieket wat vir my baie spesiaal is,” vertel Hurn.

Hy het onlangs ook die besondere eer gehad om Laerskool Baillie Park se nuwe sportsentrum te open. “Ek voel nog goed en geniet dit nog voluit, die kinders hou my gees jonk,” vertel Oom Boet wat nog self die krieketblad gereed maak voor wedstryde, die terrein netjies hou en jong manne op die krieketveld touwys maak.
Hurn is eintlik in die bevoorregte posisie dat sy familie nog verder strek as bloed, want deur die dekades voel baie kinders wat hy afgerig het, net soos familie.

“Daar is min dinge so lekker as spelers terugkom en vir my dankie sê vir wat ek vir hulle gedoen het,” voeg hy by. ‘n Strewe na uitnemendheid is maar een van Hurn se groot kenmerke. Dit is geen wonder dat hy deur die jare talle getuigskrifte ontvang het – sy kosbaarste een ‘n brief wat dr. Ali Bacher, die voormalige president van Krieket Suid-Afrika vir hom in 1992 geskryf het.

Talle ander aandenkings en foto’s uit toere bêre hy ook in plakboeke en in rame – ‘n bewys van diensbaarheid vir sy roeping. Hy het ook al die eer gehad om wyle Dok Danie Craven tydens ‘n rugbytoer in Stellenbosch in die tagtigs te kon ontmoet. Hurn se roeping het al gemanifesteer toe hy as jong Tokkie sy skoolloopbaan by Laerskool Mooirivier begin het en sy hoërskoolloopbaan by Hoër Volkskool Potchefstroom voltooi het. 
Daarna het hy besluit om sy band met die onderwys verder te vat as jong student. Hurn se eerste hoofstuk in sy onderwysloopbaan begin toe hy aan die Potchefstroomse Onderwyskollege (POK) studeer het en vanaf 1971-1974 by Generaal Kock (nou Hoërskool De Wilge) skoolgehou het.
Daarna begin sy eerste tydperk by Laerskool Baillie Park vanaf 1975-1980, voordat hy vanaf 1981-1984 as departementshoof na Laerskool Stilfontein beweeg. In 1985 kom hy terug na die rooi en blou van Baillies en dit is waar hy nog steeds na 37 ononderbroke jare is.
“My afrigting gaan daaroor om veral jong kinders ‘n passie vir die spel te leer en dat hulle dit geniet en die regte grondslag het. Dit is waarom ek analise doen op waarop kinders kan verbeter en ek ook die meeste daarvan hou om individueel met die spelers te werk en spesifiek aandag te gee,” verduidelik Hurn, wat ook deur die jare talle krieketklinieke aangebied het om spelers se tegnieke op te skerp.
Die grootste hoofstuk in Hurn se lewensboek wy hy aan die Here as sy fondasie en dit loop uit op die verskillende rolle wat hy as mens vervul: ‘n Man vir sy vrou Sanet, ‘n pa vir sy vier kinders en oupa vir sy twee kleinkinders.

“Sonder die Here kan ek nie. Hoe ouer ek word hoe meer kosbaar is my gesin vir my. Agter elke suksesvolle man is ‘n uitstekende vrou en Sanet is dit vir my. My kinders (Louise, Ian, Jorica, en Marno) skoonkinders (Ryan, Jenny, Rudolf en Nadia) en twee kleinkinders is my motivering om elke dag aan te gaan en ‘n verskil te maak.”
























