Net drie lopies het tussen Hoër Volkskool Potchefstroom se eerste span en ‘n plek in die halfeindstryd van die Noord-Suid T20 Skolekriekettoernooi gestaan die afgelope naweek (14-17 Oktober.)
In hierdie kwarteindstryd teen Grey Kollege van Bloemfontein, het Volkies amper een van die gunstelinge geklop, maar kon net nie daardie laaste uitklophou lewer nie. Volkies het vier lopies van die laaste bal nodig gehad, maar Waldo Kemp kon net die bal hoog in die lug opslaan en nie oor die grens kry nie.
Sy reaksie, hurkend op die grond, kop onderstebo en sy spanmaat Diaan van der Merwe langs hom, was ‘n prentjie van teleurstelling – veral in die lig dat Volkies top krieket gespeel het.
Die hartseer was wel kortstondig want in die volgende wedstryd teen Nelspruit wen Volkies gemaklik met 7 paaltjies danksy ‘n top beurt van Ludwich Schuld met 80* van slegs 37 balle.
Dié hotklou moker 7 viere en 6 sesse in hierdie beurt. Volkies jaag ook die 156 lopie teiken in slegs 11.3 beurte. Volkies is ook die eerste span wat 100 lopies in die eerste 6 boulbeurte slaan en bewys dat hulle slaankrag vanaf 1-4 in die kol was gedurende die toernooi. Schuld het 269 lopies in die toernooi aangeteken, wat drie vyftigtalle ingesluit het.
Hy is sodoende die speler met die vierde meeste lopies in die toernooi. Dewan Marais van Marais Viljoen met 427 lopies in ses wedstryde was die top lopiemaker in die toernooi.
Volkies kon wel nie die vyfde plek behaal in hulle uitspeelwedstryd teen Menlopark nie en in ‘n riller van ‘n wedstryd kom Volkies weereens net-net aan die verloorkant met 1 lopie. Menlopark maak 159/7 in 20 boulbeurte met Volkies wat op 158/7 staan. Hier maak Corné Prinsloo ‘n goeie 47 (26) maar kan as top lopiemaker in dié beurt nie sy span na ‘n oorwinning neem nie.

Sodoende eindig Volkies algeheel sesde van 16 skole, wat ‘n fantastiese uitslag is. Volkies kon net sowel ‘n top vier plek behaal het, as sake in hulle guns getel het.
‘n Paar dae vroeër het Volkies die toernooi in groep B met ‘n 5 paaltjie nederlaag teen Rondebosch begin, maar die volgende dag vir Westville Boys High met 75 lopies verslaan, voordat hulle die verdedigende kampioene, Hoërskool Centurion met 8 paaltjies ‘n krieketles geleer het.
Volkies jaag ‘n stewige 176 lopies met gemak in slegs 13 boulbeurte. Hier moker Corné Nel 62 van 25 balle en Schuld 68 van 43.

In die kwarteindstryd teen Grey Kollege kolf die Bloemfonteiners eerste en 188/5 aan. Marco Fouche met 87 van 47 balle staan uit en skep die fondasie vir Grey.
Volkies se openingskolwer en top lopiemaker vir sy span in die toernooi, Ludwich Schuld, teken 78 (53) aan voor hy uitgehardloop word. Prinsloo word ook uitgehardloop vir 1 en dit vermoeilik sake verder in hulle lopiejaagtog. Kemp se 44 van 28 bring Volkies amper na die oorwinning, maar op die ou einde was dit net te laat. Die kolwers, Ludwich Schuld, Corné Nel, Corné Prinsloo en Waldo Kemp het hulle reputasie definitief verhoog, terwyl die draaiers soos kaptein, Stephan Fourie, Dian Liebenberg en Volkies se top paaltjievraat met 10 paaltjies, Diaan van der Merwe, ook ‘n baie goeie toernooi gehad het.
Van der Merwe het sy paaltjies teen ‘n gemiddeld van 16.4 geneem. Volkies se hoofafrigter, Andries Huisamen, noem dat hy beïndruk was met die lopietempo wat sy span behaal het sowel as die groot oorwinnings teen Centurion en Nelspruit waar lopiejaagtogte in minder as 15 boulbeurte behaal is.

“Ons openingskolwers het vir ons briljante platform geskep. Ons was ook die eerste span in die toernooi wat 100 in die eerste 6 beurte kon slaan, wat dit bewys. ‘n Skool soos Westville wat voorheen vir 11 wedstryde onoorwonne was, het ons ook geroer. Die wedstryd teen Grey Kollege moes ons gewen het. Op kritieke tye het kolwers hulle paaltjies verloor en twee is ook uitgehardloop in die laaste vier beurte,” het hy genoem.
Grey High van Port Elizabeth (Gqeberha) het die toernooi gewen, met Grey Kollege (Bloem) tweede. Rondebosch Boys High (derde), Hoërskool Waterkloof (vierde), Hoërskool Menlopark (vyfde) eindig bo Volkskool.
Volkies se sesde plek is beslis een van die skool se groot kriekethoogtepunte en verf ‘n rooskleurige prentjie oor wat Volkies in die volgende paar jare kan vermag met die talent tot hulle beskikking.




