SportSport

’n Kryger vir ontwikkeling

Andries Cenfil Willemse... Wie is dit?

Andries Cenfil Willemse… Wie is dit? Meeste mense in Potchefstroom ken hom as Chaka, die 53-jarige voorspeler afrigter van die NWU en Luiperds. Waar kom die naam Chaka dan vandaan? “My droom was om by die Olimpiese Spele aan spiesgooi deel te neem. Toe ek by die polisie aankom het een van die offisiere my met my spies in my hand gesien. ‘Waar gaan jy Chaka Willemse?’ het hy gevra. Dit en ek was ‘n ‘violent’ rugbyspeler gewees,” lag Willemse. Met dit uit die pad uit kan mens rugby en afrigting gesels. Alhoewel hy die bynaam van die berugte Zoeloekoning geërf het, is hy van die rugbyveld af glad nie so ‘violent’ soos hy dit noem nie. ‘n Familieman met ’n passie vir speler ontwikkeling is nie wat ek verwag het van die groot man met die kryger bynaam nie. Willemse is in Witbank gebore waarna hulle Rustenburg toe getrek het. Hier het vir die Luiperds as o.14 en o.15 speler uitgedraf. Hy het later by Generaal Hertzog Hoërskool matrikuleer en is ook in daardie jaar in die Cravenweek van 1986 opgeneem. Hy het tussen 1987 en 1995 vir die Pretoria Polisie gespeel. In die tyd het hy ook vir onderskeie Noord-Transvaal spanne diens gedoen. “Daardie jare was dit nie professioneel nie. Springbokke en provinsiale spelers het almal vir klubs ook gespeel,” verduidelik hy. Met die aankoms van die professionele era in 1996 het Willemse by die Pumas aangesluit, waar hy tot in 2001 gespeel het. “Ek het meer as 100 wedstryde vir die Pumas gespeel,” vertel hy. Sy teenstanders sal nie sommer vergeet wanneer hulle teen die groot en fisiese Willemse gespeel het nie. As afrigter was hy al by laerskole, hoërskole, die Luiperds en nou by die NWU ook betrokke waar sy benadering amper sagter is. “Die belangrikste vir my as afrigter is spelerontwikkeling en -veiligheid. Ek glo in my spelers en wil ‘n geloof in hulself by hulle kweek. Afrigting is ’n groot verantwoordelikheid. Jy moet verskillende rolle kan speel. Soms moet jy vir jou spelers ‘n ouerfiguur en lewensmentor wees,” verduidelik hy. Daarom is die werk wat hy doen by die NWU vir hom so ‘n groot voorreg, amper meer van ‘n roeping. “Die Varsity Cup gaan vir my oor ontwikkeling. Soos in Sampie se geval. Ons het hom by koshuisrugby raakgesien. In hom geglo, ontwikkel en nou is hy die Varsity Cup span se kaptein,” verduidelik hy. Volgens hom is hy al deur groot unies genader om by hulle te kom afrig. Hy het dit om verskeie redes van die hand gewys. “Soms was dit ‘n besluit wat eintlik die beste vir sy gesin was. My seun het dalk net met sy skoolloopbaan begin, dan kom daar ‘n aanbod. Dan wil ek hom nie ontwrig nie. Oor die jare het mense vir my gevra of ek nie op ’n hoër vlak wil afrig nie. Dan het ek net gevra wat beteken dit? Om op ‘n hoër vlak af te rig? By die NWU ontwikkel ons spelers wat dan op ‘n hoër vlak gaan speel. “Dit is vir ongelooflik om te weet ek het ‘n hand in daardie ontwikkeling gehad. Dit gebeur nie sommer op professionele vlak nie,” vertel hy filosofies. As Shaka, die Zoeloekoning en kryger bekend gestaan het vir die verwoesting wat hy gesaai het, sal Willemse ‘n nalatenskap van kwaliteit rugbyspelers en jong mans met selfvertroue los.  

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Dustin Wetdewich

I have been a journalist with the herald since 2014. In this time I have won numerous writing awards. I have branched out to sport reporting recently and enjoy the new challenge. In 2019 I was promoted to Editor of the Herald which brings another set of challenges. I am comitted to being the best version of myself.

Related Articles

Back to top button