SportSport

Griffons kelder dapper Luiperds

Die Luiperds het sterk begin, met Danrich Visagie wat binne die eerste twee minute oorduik na Andries Truter goed deur 'n gaping gegaan het. 

Die Luiperds het gistermiddag (24 Mei) teen die Griffons gespeel. Hierdie wedstryd is geskuif nadat weerlig, Saterdag (21 Mei) se kragmeting gekelder het.

Die eindtelling was, 35 – 25 in ide Griffons se guns. Vir alle praktiese doeleindes is die Luiperds uit die wedloop om die uitkloprondtes van die Curriebeker eerstedivisie te haal.

“Daar is nog ‘n kans, maar daar is baie dinge wat in ons guns moet tel. Ek glo natuurlik, dit is nie verby tot dit verby is nie. Die ewige optimis,” verdudielik André Pretorius, hoofafrigter van die Luiperds.

Die Luiperds het sterk begin, met Danrich Visagie wat binne die eerste twee minute oorduik na Andries Truter goed deur ‘n gaping gegaan het.

Visagie is as kaptein in Siya Mdaka se plek aangewys. Mdaka is met ‘n kniebesering uit. Die Griffons se skrumskakel Jaywin Juries het die purple people eaters, met sy skopskoen in die wedstryd gehou. Die Luiperds het vir hom die geleenthede geskep. Hulle is by die afbreekpunte swaar gestraf. HP Swart is in die eerste helfte ‘n geel kaart gegee vir ‘n duikslag sonder sy arms. In sy tyd van die veld af het die Luiperds 14 punte afgestaan.

Die Griffons se linkervleuel, Gershwin Weir het die Noordwesters  met sy flink voetwerk besig gehou. Hy het twee van die Griffons se drieë geskep.

Duren Hoffman wat saam met Gustav Erlank seker die Luiperds se beste spelers op die dag was, het kort voor halftyd gaan druk. Die telling was 20 – 18.

Die Luiperds het hulleself heeltyd in die wedstryd gehou. Maar weereens, kritieke foute op die verkeerdste tye het hulle gekos. Balle is voor die doellyn laat val, en aangeslaan. Die vaste fasette van die Luiperds, veral die lynstane was heel wedstryd baie goed, behalwe wanneer dit die meeste saak gemaak het.

Volgens Pretorius het sy span kanse gehad, wat hulle nie gebruik het nie vanweë swak  en oorhastige besluitneming.

“Ons groep is nie spelers en afrigters nie, ons vat hierdie goed saam op die ken. Ons moet gaan kyk hoekom sekere goed gedoen word, en hoe om dit reg te maak,” het Pretorius gesê.

Robert Kruger is na ‘n goeie kraglopie oor die lyn maar die skeidsregter het beslis dat hy nie die bal gedruk het nie. Dié skrywer is sonder twyfel onpartydig, maar dit het nie gelyk of hy opgehou was nie. Tog was dit die Luiperds se storie van die dag. Kanse wat deur hulle vingers gelip het.

Eugene Hare FOTO: Mario van de Wall

Die Griffons het die laaste sê gehad met ‘n laaste drie om die telling 35 – 20 te maak. Daar lê nou slegs drie wedstryde teen die buitelandse spanne voor. Hierdie is verseker ‘n seisoen wat die Luiperds gaan wil vergeet. Die verdedigende kampioene sal ‘n ernstige nabetragtig hou om hulleself in die volgende twee jaar  vir moontlike promosie reg te kry.

Die Luiperds se volgende wedstryd is teen Zimbabwe.

Related Articles

Back to top button