Luister die berig hier:
Vyf top jong atlete van Atletiek Sentraal Noordwes (ACNW) gaan Suid-Afrika by die 2022 o.20 Wêreld Atletiekkampioenskappe in Santiago de Cali, Kolombië vanaf 1-6 Augustus verteenwoordig.
Armand Willemse (spiesgooi), Karmen Fouche (verspring), Danielle Verster (1500m), Janise Nell (10 000m stap) en Emel Keyser (110m hekkies) gaan die land se naam hoog hou en hopelik medaljes huistoe bring.
Armand is tans ‘n matrikulant in Gimmies terwyl Karmen en Danielle oud-Gimmies is. Janise is ‘n matrikulant in Volkies.

Al hierdie atlete is gewoond aan podiumplekke en puik uitslae en dit sal geen verrassing wees as hulle in Suid-Amerika hulle talent vir die wêreld ten toon stel nie.
Atletiek Suid-Afrika stuur 47 atlete na hierdie kampioenskappe en die opwinding is groot dat die nuwe generasie talent hulle goed van hul taak sal kwyt.







